Oorsig oor Organiese Plaagbeheer

©Dr Pia Addison Winetech
Die beste manier van organiese plaagbeheer is om die natuurlike vyande van insekplae te beskerm en húlle kan help om die insekplae uit te roei! Natuurlik is ‘n oormaat insekte van ‘n spesifieke soort ‘n aanduiding van ‘n wanbalans in die omgewing bv. dat daar nie natuurlike vyande aanwesig is nie en dus dat daar nie genoeg bio-diversiteit is nie.
Wat is natuurlike vyande: Roofinsekte, reptiele soos akkedisse en paddas, spinnekoppe
Plantpeste se natuurlike vyande word beskerm deur weg te beweeg weg van monokultuur (slegs een tipe gewas) en die bevordering van bio-diversiteit. Laat natuurlike stroke plantegroei in lande om skuilplek vir roofinsekte, natuurlike vyande en ander organismes te gee en moenie gif gebruik nie - dit maak nie net die plaag dood nie, maar ook al die ander insekte en kleiner diere (natuurlike vyande).
Daar is twee maniere om plae op ’n organiese manier te beheer; natuurlike beheer en biologiese beheer.

Natuurlike Beheer

Sekere plante soos kakiebos hou insekte weg en nematodes word geïnhibeer deur die ‘stink Afrikaners’ blomplant. Sekere plant kan help om peste te reguleer deur die volgende maniere:
Versteek die gewas van peste - dit word gedoen deur plantmaats (‘companion plants’) naby die gewas te plant. Bv kies ‘n plantmaat wat d.m.v. sy reuk insekte verdryf.
Vestig plante wat voordelige insekte (vyande van peste) aantrek en van kos voorsien.
Plant ‘n biologiese heining (struike, blomplante) rondom die plaas of naby die gewas.
Insekbeheer in klein groentetuine kan met ‘n ekstrak (tee) van kakiebos gedoen word. ‘n Rissie of knoffel-aftreksel of kan ook gespuit word om te help om insekte te bestry.

Biologiese Beheer

©Prof Piet Goussard Winetech
Insekte vorm ‘n belangrike skakel in die ekosisteem en nie alle insekte is plae nie. Insekte help om die natuur in balans te hou en as die balans versteur is, word die getalle van een soort insekte so hoog dat daardie insekte plaag status kan bereik. Insekte moet dus nie voor die voet uitgeroei word nie, want dit dra by tot die biologiese beheer van plae soos byvoorbeeld liewenheersbesies (‘ladybirds’) wat op plantluise voed.

By Marinda Louw