Om Bokke te Voer op Aangeplante Weiding

©Chris Daly
Aangeplante weiding (weiveld bedek deur gras) neig om baie energie en proteïene te verskaf terwyl dit in ‘n vegetatiewe toestand is. Dit het egter ‘n hoë voginhoud terwyl dit groei en dis dan moeilik vir ‘n hoog-produserende ooi of snel-groeiende lam om genoeg gras te vreet om aan hul voedingsbehoeftes te voldoen. Daarbenewens verminder die smaak en verteerbaarheid van die gras soos dit ouer word, so dis belangrik om weikampe te roteer sodat plante in ‘n vegetatiewe toestand bly. Buite die groeiseisoen sal hooi die hoofbestanddeel van jou bokke se dieet word.
Raaigras smaak goed dwarsdeur die groeiseisoen totdat dit ryp word vanaf September tot Oktober. Kikoejoe raak maklik grof en onverteerbaar, veral laat in die somer. Let daarop om nie te veel voedselkonsentraat (hoë energie of hoë proteïene voer soos koring of sojaboonmeel) te voer nie, want dis geneig om duur te wees. Maar moet ook nie te veel verwag van die weiding en te min suiwelmeel voer sodat die bok se produksie aan bande gelê word nie.
Weidingsperiodes moet gekoördineer word om in te pas by die bemesting-en besproeiingskedules van die weiding. Laat genoeg tyd toe na bemesting (voor weiding) sodat daar nie enige risiko is dat bokke vergiftig word deur die bemesting nie. Dit mag selfs nodig wees om gras te sny wat te welig groei gedurende die piekseisoen.

Aanvulling van Bokke se Voer op Aangeplante Weiding

©Marinda Louw
As weiding die basis vorm van ruvoervoorraad, sal die vernaamste probleem wees om te bepaal hoeveel droë materiaal (DM) word ingeneem. Indien eksta konsentrate gegee word, mag die bokke hul inname verander en minder weiding inneem. Indien slegs swak weiding beskikbaar is, kan voeding aangevul word deur 200-350gm konsentraat per dier per dag, afhangend van hul ouderdom. Die “oog van die boer” is baie belangrik omdat die reaksie van die bokke op veranderinge in die beskikbaarheid en verteerbaarheid van voer dopgehou moet word.
Die boer moet die verwagte DM inname van die weiding skat en konsentraat-aanvullings daarvolgens byvoer. As die boer vermoed dat DM inname hoër is as sy skatting, kan hy die konsentraat-rantsoen verlaag. Indien melkproduksie afneem as gevolg hiervan, moet die konsentraat voeding aangepas word sodat die afname nie permanent is nie. Melkbokke benodig graan in hul dieet om melkproduksie te ondersteun.
Dragtige bokke (eerste vier maande van dragtigheid) behoort toegang te hê tot goeie weiding vir ongeveer 4/5 uur per dag en dit kan aangevul word met 5kg groenvoer per dag. In die laaste maand van dragtigheid kan die groenvoer vermeerder word tot 7kg per dag, tesame met 250-400g/dag/dier konsentraat. Goeie weiding behoort te voorsien in al die voedingstowwe wat ‘n nie-lakterende bok benodig, maar hulle mag dalk voedingskonsentrate van 150-200g per dag op swak weiding nodig hê. Bokke moet altyd vrye toegang hê tot ‘n hoë kwaliteit mineraallek spesifiek vir bokke. Die lek moet genoeg koper bevat en moet sag wees – nie ‘n harde blok nie.

Grootmaak van Lammers op Aangeplante Weiding

©Marinda Louw
Lammers ontvang ‘n mengsel van melk (bok-of beesmelk), groenvoer en kruipvoer – ‘n voedsame voer wat so geplaas word dat volwasse bokke dit nie kan bereik nie - totdat hulle drie mande oud is. Vandat hulle 90 dae oud is kan lammers toegelaat word om te gaan wei op aangeplante weiding vir ongeveer 8 ure per dag. Aanvullende voer met ‘n proteïeninhoud van 15-18% kan daagliks gegee word; ongeveer 125 -200g per dier per dag. Voorsien snags droë voer gedurende die reënseisoen.

Translated by Elna Van Rhyn