Mpumalanga Provinsiale Wapen

Die Mpumalanga Provinsie se wapen het ’n groen basis met die Latynse leuse, Omnia Labor Vincit, bo-op geskryf. Dit beteken “Arbeid sal alles oorkom”. 

Op die skild is ’n uitbeelding van die rooigousblom. Die skilddraers is twee koedoebulle. Bo-op die skild is ’n kroon wat aandui dat die provinsie die tweede regeringsfeer is. Die helmteken het drie strale wat die opkomende son en die pieke van die Mpumalanga Drakensberge simboliseer.

Dier Embleem – Koedoe (Tragelaphus strepsiceros)

©Roger de la Harpe

Die koedoe is ’n blaarvreter en eet blare van ’n verskeidenheid bome en struike. Die koedoe verkies droë bosveld gebiede, Mopanie- en Miombo-woude en die oop knoppiesdoring-boslande in die Nasionale Krugerwildtuin. Koedoes kom in troppe voor en verdeel gewoonlik in twee subgroepe.

Jong koeie bly by hul moeders, maar jong bulle bly in alleenloper groepe wanneer hulle seksuele volwassenheid bereik, omtrent op twee jaar oud. Bulle sluit by die koeie se groepe aan tydens paartyd, gewoonlik tussen April en Mei. Daar bestaan geen territoriale spasiëring tussen bulle nie, maar hulle wys ouderdom en dus is daar dominante hiërargieë.

Dratyd is ongeveer sewe en ’n halwe maand en die kalwers word gewoonlik in die somermaande gebore. Vir die eerste vier tot ses weke na geboorte kruip die kalf vir roofdiere weg as die koei gaan wei. Die koei gaan slegs na die kalf toe tydens voedingstye.

Blom Embleem – Rooigousblom (Gerbera jamesonii)

©Jacques Marais
Die rooigousblom is inheems aan Suid-Afrika. Dit is ’n skouspelagtige blom met gekartelde blink blare wat in ’n roset groei. Die blom kom in skakerings van pienk, oranje, wit en rooi voor. As gevolg van die helder kleur is dit regdeur die wêreld ’n baie gesogte blom. Daar word beweer dat die rooigousblom die mees gebruikte snyblom in blommerangskikkings is.Translated by Ananda Schoeman