Merlot

Beskrywing

Merlot is ‘n rooi wyn variëteit wat ontwikkel het uit die kruising van Cabernet Franc en Magdeleine Noire des Charentes. Die naam van die variëteit is afgelei van ‘n Bordeaux woord wat “klein lystertjie” beteken omdat die voëltjies óf dieselfde kleur as die druiwe is, óf omdat hulle verkies om Merlot druiwe te eet.

Oorsprong

Die variëteit kom al in die Bordeaux streek van Frankryk voor sedert die vroeë 18de eeu. Produksie in Frankryk het vele terugslae beleef sedert die 1950’s, beginnende met geweldige ryp wat baie Merlot en Malbec wingerde vernietig het. Die jaar daarna is nuwe wingerde geplant, maar die meeste het verrot.

Elke volgende plantpoging het in mislukking geëindig. Die situasie was so kritiek dat die Franse owerhede in 1970 ‘n verbod geplaas het op die aanplant van nuwe Merlot. Die verbod is opgehef in 1975 weens die toenemende gewildheid van die wyne in die res van die wêreld.

Ander Name

Daar word dikwels na Merlot verwys as Merlot noir om dit te onderskei van die baie verskillende wit wyn variëteit genaamd Merlot blanc. Ander sinonieme sluit in Petite Merle, Merlau, Vitraille, Crabutet, Bigney, Semillon Rouge en Medoc noir.

Verbouing in Suid-Afrika

Hoewel die variëteit al sedert die 1920’s in die land is, het produksie eers vlamgevat in die 1990’s weens die gewildheid in Cabernet versnitte en ook as ‘n enkelvariëteit wyn. Produksie het toegeneem van slegs een hektaar in 1979 tot net meer as 5 550ha in 2016. Overgauw in Stellenbosch is die eerste wynlandgoed wat wyn vrygestel het wat slegs van Merlot gemaak is.

Produksiestreke

Merlot presteer goed in koeler klimaatstreke op mediumpotensiaal gronde. Voorsiening moet gemaak word vir besproeiing omdat die variëteit uiters kwesbaar is vir droogte gedurende die rypword-fase. Dit word dwarsdeur Suid-Afrika geplant, met Stellenbosch wat die grootste area onder produksie het, gevolg deur die Paarl.

Groei

Die wingerdstokke groei gemiddeld kragdadig en is geneig om te rank. Gemiddelde produksie is rondom 8t/ha tot 12t/ha.

Rypwording

Korrels word ryp omstreeks mid-seisoen, vanaf die eerste helfte van Maart.

Korrels

Korrels is mediumgrootte, rond en het ‘n blouerige swart kleur wanneer dit ryp is. Die dop is dun en die binnekant het ‘n waterige tekstuur.

Blare

©Glenneis Kriel
Blare is glad, donkergroen, mediumgroot en vyflobbig.

Peste en Plae

Merlot is relatief bestand teen fungusse, behalwe donsige skimmel. Probleme met botritis mag ervaar word in warmer streke. Dit is baie sensitief vir windskade, droogte, hitte-stres en soutgehalte van die grond.

Gebruike

Merlot word gebruik vir die produksie van enkelvariëteit wyne en is ‘n gewilde versnitmaat vir Cabernet Sauvignon en Cabernet Franc.

Smaak

Klone in Suid-Afrika lewer oor die algemeen donkerkleurige wyne met prominente bessie- of grasgeure. Meer as een kloon kan geplant word per hektaar om by te dra tot die kompleksiteit van die wyne.Translated by Elna Van Rhyn