Mapungubwe is geleë in die Noord Westelike deel van Suid-Afrika, by die samevloeiing van die Limpopo- en Shashe-rivier. Dit is op die grens van Botswana en Zimbabwe, oorkant die Tuli Blok. Omtrent 1000-jaar gelede was dit die middelpunt van ’n groot en magtige gemeenskap wat intensief met die handelaars op die Oos-kus van Afrika handel gedryf het.
Daar is meer as 200 geassosieerde argeologiese areas in die gebied en drie ‘hoofstede’ wat op verskillende tydperke besit was: Zhizo, K2 en Mapungubwe Koppie. Die hoofstad by Mapungubwe Koppie was die grootste en rykste. Die koning het in ’n heerlike afsondering op die koppie gebly, terwyl sy mense op die vlaktes om die voet van die koppie geleef het.
Na die ineenstorting van die gemeenskap, omtrent 700-jaar gelede, het die stamme wat in die area agter gebly het, geweier om naby aan die koppie te kom. Hulle het geglo dat dit ’n heilige plek is waar die voorvaders lewe.
Die koppie was vir die eerste keer deur wit mense in 1932 ontdek, toe ’n blinde ou man, genaamd Mowena, oorreed was om die legendariese koppie aan ’n onderwyser met die naam Van Graan, uit te wys. Van Graan en sy vriende het ’n aantal begraafplekke bo-op die koppie ontdek wat gevul was met indrukwekkende artefakte. Die mees bekende hiervan is die heel renoster figuur wat uit goue folie gemaak is.
Klink dit interessant? Verseker! Hoekom weet ons dan nie meer oor hierdie vergete kultuur en hulle misterieuse koppie nie? Mapungubwe is een van die oudste gemeenskappe in sub-Sahara Afrika, maar vir die afgelope 700-jaar is dit omring met misterie en mites. Daar is verskeie redes hiervoor.
Eerstens, soos in die geval van vele ander antieke beskawings in Suid-Amerika en die Midde Ooste, is daar min korrelasie tussen die antieke Mapungubwe mense en hul moderne gemeenskap. Die Mapungubwe mense het ook geen geskrewe dokumente agtergelaat nie en verbale geskiedenis gaan nie veel verder terug as ’n 100-jaar nie.
Laastens, in apartheidsjare in Suid-Afrika wou die regering nie die Bantoe mense enige erkenning gee vir hul denke en aksies nie en hulle wou beslis nie die Afrika geskiedenis in die kurrikulum inwerk nie. Die wêreld van die San en die organisering van die Bantoe ystertyd nedersettings was daarom oorgekyk en aktief in handboeke geïgnoreer. Dit het die wanpersepsie versprei dat niks veel in Suider Afrika gebeur het tot en met die Europeërs se aankoms in die 1500’s.
Dié van ons wat ongelukkig onder die wantrouige Suid-Afrikaner Nasionalisme opgevoed is, kan steeds nie die idee laat gaan dat die plaaslike mense altyd ’n rowwe, stamagtige groep mense is wat in hutte lewe en met spere in die bos rond hardloop nie.
Een rassistiese idioot het selfs vir my gesê dat die Afrika mense geen kultuur het nie en ek moes, voordat ek kwaad raak, onthou dat dit is wat vir ons generasie geleer was deur die blinde geskiedkundiges van die verlede. Maar steeds, oor die jare was daar duisende publieke uitstallings gehou deur die Universiteit van Pretoria en die storie was alom in die pers uitgesaai.
Die meeste van hierdie persverklarings het egter rondom die ‘misterie’ van Mapungubwe gesentreer en gewonder wie hierdie delikate, beeldskone goue renoster kon maak – nooit in hulle wildste drome vir ’n sekonde gedink dat dit miskien die plaaslike mense kon wees nie. In die meeste gevalle was Mapungubwe in die stowwerige rakke van die akademie gebêre met die hoop dat dit vergete sou word. Dit was amper vergete.
Sedert 1994 het die politieke ideologie verander en Mapungubwe is herwin as ’n kragtige simbool van die ‘Afrika Renaissance’; ’n tasbare voorbeeld van verlede glorie wat ons jou weer wil uitlig. Dienooreenkomstig was die geskiedenis sillabus in 1997 uiteindelik opgedateer om ’n meer algehele prentjie te skep van Afrika se geskiedenis en Mapungubwe was terug gesit in sy regverdige posisie in ons nasionale bewussyn.
Hierdie poging het, regverdiglik, ook veroorsaak dat die meeste van die Mapungubwe gebiede nou veilig verskans is binne die beskermende grense van die nuut gevormde Nasionale Park. Dit is ook merkwaardig om op te let dat die hoogste eer wat deur ons regering aan Suid-Afrikaners gegee kan word vir uitstekendheid en prestasie nou die Kommissie van Mapungubwe is.
Dit is dan die storie van Mapungubwe. Dit is ’n vreemde en enigmatiese storie, gevul met interessante geheime wat slegs verhelder word met flitse van goud, potskerwe en ’n paar menslike oorblyfsels. Dit is ook ’n fassinerende en ryke verhaal van antieke beskawings en ongelooflike ontdekkings wat soos ’n roman deur H. Rider Haggard gelees kan word.
Vir enige iemand wat egter voor 1997 skool gegaan het, is dit ook die storie van die Mapungubwe Kulturele Landskap wat ’n belangrike gaping in ons psiges is en ’n skoon bladsy wat gevul moet word.
Translated by Nina Joubert