Limpopo Provinsiale Wapen

Die basis van die Limpopo Provinsie se wapen is swart en groen. Die leuse, Peace Unity and Prosperity, is op ’n wit boekrol geskryf. In Afrikaans beteken dit “Vrede Eenheid en Vooruitgang”. Die skild is oorwegend geel met ’n kremetartboom binne-in en net bo die kremetartboom is ’n golwende rand. 

Die boonste deel van die skild is groen. Die skild simboliseer die regering se verbintenis om menseregte te beskerm. Die kremetart verteenwoordig die mense se krag en standvastigheid. Die golwende rand verteenwoordig die bergreekse en die ryk landbougrond van die Limpopo Provinsie.

Die helmteken bo-op die skild is rooi en goud met vyf broodboomblare. Die kroon simboliseer koninklikheid. Die broodboom is ’n bedreigde plantspesie en simboliseer bewaring en voortgesette tradisionele leierskap. Die skilddraers is twee buffels wat eenheid, krag en politieke stabiliteit verteenwoordig.

Boom Embleem – Kremetart (Adansonia Digitata)

©Karl Svendsen

Die kremetartboom word in die noordelike dele van die Limpopo Provinsie gevind. Dit kom ook in ander dele van Afrika en Australië voor. Kremetartbome kan massief groot en baie oud word. Koolstofdatering toon aan dat sommige kremetarte sowat 3000 jaar oud is. Dit is ’n vreemde boom, met die verspreiding van die takke wat soos wortels lyk, amper asof dit onderstebo geplant is.

Die kremetart se wit blomme gaan net snags oop en het ’n onaangename reuk. Vir die mens ruik dit soos verrottende vleis, maar die reuk lok insekte en vlermuise vir bestuiwing. Die vrugte wat tot ’n voet lank kan word bevat sade wat met ’n wit pulp bedek is.

Die pulp is ryk aan vitamien C en wynsteensuur. Die kremetart het oor die eeue heen skuiling, voeding en medisyne aan mens en dier verskaf.

Dier Embleem – Buffel (Syncerus caffer)

©Ann Gadd

Die Afrika-buffel is ’n groot en kragtige hoefdier wat hoofsaaklik in ’n trop voorkom. Beide bulle en koeie het horings, maar die bulle se horings neig meer boontoe en is dikker. Die buffel is ’n grasvreter en het ’n positiewe impak op die omgewing aangesien dit lang gras kort vreet en ander grasvreters hierdie korter gras verkies.

As ’n groot trop keer hulle die grond om en deur die aksie meng hulle hul mis daar binne-in wat weer die grond se voedingstowwe aanvul. Die bulle se dominansie is volgens hul grootte, sterkte en vegvermoë. Die meer dominante bulle loop aan die begin en in die middel van die trop sodat hulle nie platgetrapte gras hoef te eet nie. Hulle het ook die beste beskerming teen roofdiere.

Die dominante bulle het voorkeur toegang tot die bronstige koeie. Buffels bulk as dit deur ’n roofdier aangeval word en waarsku so die hele trop. Die kalwers en jonger diere word saam met die koeie in die middel van die trop beskerm, terwyl die volwasse bulle die bedreiging afweer.

Translated by Ananda Schoeman