Karob: Onderbenutte Voedselboom

© Garroves
Die karobboom (Ceratonia siliqua), ook bekend as die johannesbroodboom, is ‘n klein tot mediumgroot immergroen peuldraende boom met blink, leeragtige blare. Dit produseer lang, plat leeragtige peule wat tussen 13 cm en 30 cm lank kan wees, en ‘n soet, sjokolade-agtige pulp en gom saam met boontjie-agtige sade. Die karob is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar toon baie potensiaal as ‘n dier- en mensvoedsel wat inheemse voedselvoorrade kan aanvul.
Navorsing op die karob wat in 1949 in die VSA gedoen is, het daartoe gelei dat die beste variëteite uitgesoek en gekloon is, waarvan sommige aan Suid-Afrika beskikbaar gestel is. Ten minste sewe klone word wêreldwyd gebruik, met verskille in geur, peulgrootte (plat, geboog of gedraai) sowel as suikerinhoud (vanaf 45%-56%).
Die vyf beskikbare variëteite wat in Suid-Afrika gekweek word (meestal in die Wes-Kaap), is in 2010 in ‘n studie deur die Departement Voedselwetenskappe van Stellenbosch Universiteit getoets. Suikervlakke (waarvan 70% sukrose was) het gewissel van 40–54%, proteïene sowel as 17 aminosure is waargeneem, insluitend die sewe noodsaaklike aminosure. Etlike voedselprodukte – brood, ontbytgraan, ‘n melkgebaseerde drankie, pap en ‘n mousse is gedurende hierdie studie ontwikkel, maar is nie vrygestel op ‘n kommersiële skaal nie.
Weens die min bestuur wat hulle vereis, is karobbome geskik vir lae-inset produksiesisteme. Karobbome is gewilde ornamentele plante om te gebruik in die landskapsbedryf en ook as windheinings. Dit vorm ‘n effektiewe verskansing teen vuur omdat die blare nie maklik brand nie. Die hout is hard met ‘n fyn grein en is gewild vir gebruik in skrynwerk. Dit brand stadig en is goeie brandhout wat uitstekende houtskool maak.
Die peule en blare is ‘n uitstekende voedsel vir beeste, varke, bokke, skape en donkies. Karob het ‘n reeks gebruike in menslike voedsel. Dit kan vars geëet of gerooster word. Gemaalde sade word gebruik om ‘locust bean gum’ (‘n galaktomannan) te maak, as ‘n verdikmiddel en om ‘n sjokoladegeur aan voedsel te gee.
Die karobboom word al vir millennia in die meeste lande rondom die Middellandse see geplant waar daar gewoonlik gematigde toestande en in dikwels semi-droë gebiede met swak grond groei. Die vernaamste produsente van karob sluit in Spanje, Italië, Marokko, Turkeye en Portugal. Volgens Verenigde Nasies (VN) statistieke het Portugal in 2016 meer as 40 000 ton karob geproduseer. Die karobpoeier wat in Suid-Afrika gebruik word, word meestal uit Spanje ingevoer.
Die karobsaad word ook as gewig gebruik vir goud en ander edelstene omdat die sade baie eenders weeg. Die woord ‘karat’ is afgelei van ‘qīrāț’, die Arabiese naam van die sade.

Hoe om Karobbome te Kweek

©Jad Issa
Die stadiggroeiende karobboom kan van saad gekweek word. Sade benodig 'n kookwaterbehandeling, opgevolg deur drie dae se week sodat ontkieming kan verbeter. Die sade moet geplant word in ‘n sanderige potplantgrond (in die lente of somer) in individuele houers soos bv. hergebruikte melkkartonne. Saailinge kan verplant word wanneer hule 8 – 10 cm hoog is. Maak seker dat die tenger penwortels nie beskadig word terwyl die saailinge uitgeplant word nie.
Karobbome is ‘trioecious’, wat beteken dat beide manlike en vroulike bome bestaan en sommige variëteite dra sowel manlike as vroulike blomme. Een manlike boom kan ongeveer 10 – 20 vroulike bome bestuif. Bestuiwing word deur wind en insekte gedoen, maar lae oeste kan dikwels toegeskryf word aan swak bestuiwing.
Karobs kan droogte, seewinde en enige grondsoort verdra, behalwe klei-en suurgronde.
Hulle hou van droë, rotsagtige plekke. Karobbome het min water en bemesting nodig en geen snoei nie. Korobpeule word geoes voor die winter en moet van die boom afgedruk word met ‘n stok, met nette of seile onder die bome opgevang, en dan in die son drooggemaak word. Peule word na 6 – 7 jaar gedra en tot 125 kg peule kan van ‘n volwasse boom (+25 jaar) geoes word. ‘n Drag van ongeveer 2 kg kan verwag word van ‘n boom wat 6 jaar oud is. Verbeterde variëteite kan vrugte (peule) dra binne 3 tot 4 jaar. Siektes in karobbome is min en die enigste peste is dopluise en die karobmot, Myelois ceratoniae.

Translated by Elna Van Rhyn