Identifisering Van Pluimveeprobleme - Kyk

© Chris Daly

Gebruik jou basiese veeboervaardighede en jou sintuie om probleme te identifiseer voordat hulle buite beheer raak. Hier is advies van die Landbou Navorsingsentrum se Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut oor waarna jy op die uitkyk moet wees:

Verspreiding van Voëls

©Chris Daly
Kyk na die verspreiding van voëls sodra jy die produksiearea binnegaan. Voëls wat koud kry sal saambondel, terwyl voëls wat warm kry in koeler areas sal staan of lê en hyg in ‘n poging om af te koel. Saambondeling by voerders of drinkplekke mag ‘n aanduiding wees dat daar nie genoeg voerders of drinkplekke is nie. Dit mag lei tot kompetisie en swakker voëls sal altyd minder kry as die wat sterker is. Trekke mag ook veroorsaak dat voëls saambondel in trekvrye areas.

Algemene Voorkoms

©Chris Daly
Kyk na die algemene voorkoms van die voëls. Lyk hulle gesond, depressief of bedremmeld? Is daar tekens van vere-uittrek? Sien jy kaal kolle op die voëls?

Kyk na die grootte van die voëls. Is alle voëls ewe groot of is sommige kleiner as die ander? Wat kan die rede wees vir die verskil in grootte? Was sommige voëls swak van die begin af? Is hulle siek of verhoed sterker voëls dat hulle voldoende kos en water kry?

Verskillende Liggaamsdele

Volgende moet jy verskillende dele van die liggaam van kop tot toon ondersoek.

Kop en Nek

©Chris Daly
Die kam en lelle moet rooi wees sonder enige snye of swelsels. Iets is verkeerd as die kam of lelle blou of swart is, terwyl ‘n bleek pienk kleur mag dui op siekte, parasietbesmetting, hitte uitputting of bloot dat die voël sy jaarlikse ververing (‘n biologiese proses waartydens hulle vere verloor en nuwes kry) ondergaan.

Die oë moet rond, oop en blink wees. Iets is verkeerd as die oë toe, ovaalvormig, of ‘n dowwe wit kleur is, of ‘n afskeiding het. Neusgate moet skoon en oop wees om normale asemhaling toe te laat. Daar moet nie enige vloeistof by die neusgate uitloop nie, want dit veroorsaak korse wat die neusgate kan verstop. Die area tussen die oë en die neusgate moet nie geswel wees nie.

Die bek moet ‘n normale vorm hê met al sy dele, behalwe as die hoender ‘n lêhen is en die produsent die boonste gedeelte van die bek weggesny het omdat die henne mekaar pik in die hokke. Die bek is gewoonlik toe onder normale omstandighede, maar sal oop wees as die neusgate verstop is, of die voël is onder stres, of kry te warm. Die bek moenie sag en rubberagtig voel nie. Die nek moet sterk en reguit wees om die kop hoog te hou. Dit moenie swak en verdraai wees nie.

Liggaam

©Chris Daly
Die hele liggaam moet deur vere bedek wees, behalwe in die geval van sekere rasse waar die bors en nek kaal mag wees. Vere lê normaalweg plat teen die liggaam en staan slegs regop wanneer die hoenders slaap, in koue weer of tydens siekte. Kyk tussen die vere vir bosluise, luise en myte. Bosluise word gewoonlik op die kop, en luise op die vere van die nek en op of onder die vlerke gevind. Vere behoort skoon te wees. Vuil vere met tekens van uitskeiding rondom die uitskeidingsopening mag ‘n aanduiding wees van diarree. ‘n Swelsel rondom die uitskeidingsopening mag ‘n aanduiding wees van ‘n eier wat nie gelê kan word nie.

Die bene moet sterk, reguit en glad wees, gewoonlik geel van kleur. Daar moet nie enige snye, swelling of korse op die bene wees nie en die voëls behoort nie mank te loop nie.

Translated by Elna Van Rhyn