Hoe om met Alpakkas te Boer

© Marinda Louw

Alpakkas is semi-herkouende diere (diere met meer as een maag) wat kan oorleef in die harde toestande van koue klimate by hoë hoogtes bo seespieël. In Suid-Afrika word daar by meer gematigde klimate met alpakkas geboer en hulle word aangehou op weivelde waar hul diëte ook mag aangevul en aangepas word om optimale vag-of skeerselkwaliteit te verseker. Alpakkas word eenmaal per jaar geskeer.

Hoewel alpakkas enige tyd gedurende die jaar kan lam, is dit beter dat crias (baba alpakkas) in die laatsomer (Maart - April) of in die lente (Oktober - November) gebore word, eerder as in die winter.

Aankoop van Alpakkas

Koop die beste alpakkas wat jy kan bekostig, is die raad van alpakkaboere in Suid-Afrika. Nuwe alpakkaboere mag ook verkies om SA Studbook-geregistreerde diere van ander Suid-Afrikaanse alpakkatelers te koop en kan van R20 000 – R 25 000 (2019) spandeer op goeie kwaliteit, jong dragtige ooie. ‘Herdsire’ alpakkas (manlike diere/teelrammere wat in ‘n teelprogram gebruik word) kan van R15 000 – R18 000 of meer kos, skat Dr Gavin Lindhorst, ‘n alpakkateler en invoerder. Alpakkas as tropbeskermers of troeteldiere kan baie minder kos as teeldiere.

Besoek alpakkatelers om meer te wete te kom van rasstandaarde, telingsgeskiedenis, hoe om diere se vesel te beoordeel en kyk na ‘herdsires’ (teelramme) wat in die trop gebruik word. As jy vining ‘n trop wil bou, begin met dragtige vroulike diere, adviseer Dr Lindhorst.

Afgesien van diere wat ingevoer is uit Chile en Peru, het Suid-Afrika ook alpakkas ingevoer uit Australië. Australië het Peruviaanse bloedlyne bekom, het ‘n aktiewe register en skoustelsel wat superieure alpakkas identifiseer, sê Dr Lindhorst.

Boonop is Australiese alpakkas blootgestel aan normale lewendehawe parasiete en siektes terwyl alpakkas se natuurlike habitat in die hoë Andesgebergtes (+3 000 m) ‘n steriele omgewing is.

Om te Boer met Alpakkas

©Marinda Louw

Hoewel daar met alpakkas geboer kan word vir teeldoeleindes of as tropbeskermers, is die belangrikste rede goeie haarkwantiteit en kwaliteit. Dit word nie slegs bepaal deur die diere se genetika nie; goeie bestuur en voeding bepaal hoe hierdie genetika prakties benut word. Byvoorbeeld, die bestuur van weiding, sodat kontaminasie van die haar deur gras en dorings beperk word rondom skeertyd.

Alpakkas word aangehou op weiding soos kikoejoe of Eragrostis en sommige op fynbos in die Karoo. Weiding kan aangevul word deur konsentrate (grane, korrels, mineraalmengsels, ens.) of perdemeel gekombineer met lae-proteïene wildskorrels en lupienesaad. Die Proteïene-inhoud van hul dieet kan die alpakka-vagkwaliteit beïnvloed; ‘n hoë proteïen-inhoud mag veroorsaak dat die vesels grof word. Dis belangrik om daarop te let dat die alpakka oor die vermoë beskik om voedingstowwe uit selfs die swakste weiding te onttrek, hoewel boere nogtans aangemoedig word om natuurlike weiding aan te vul met addisionele voedingstowwe.

Dit word aanbeveel dat plase in genoeg kampe verdeel word sodat rotasiebeweiding toegepas kan word. Pasop vir te veel diere in ‘n kamp. Verskillende kampe is nodig om die verskillende groepe diere soos dragtige ooie, jong ooie, teelramme, jong ramme, speenlammers en diere wat spesiale versorging benodig, soos medisyne of spesiale voeding, te akkommodeer.

Vroulike alpakkas (hembras) is gereed vir teling op 18 tot 20 maande en lam ‘n enkele cria na ongeveer 340 dae. Twee weke nadat sy gelam het, kan ‘n hembra weer gedek word. Tweeling-lammers is uiters skaars.

Toonnaels en ondertande moet jaarliks nagegaan en geknip word indien nodig. Inentings is dieselfde as vir skape. Dit sluit in beskerming teen die bloutongvirus, slen(g) (k)dalkoors, en Clostridia siektes.

Die Skeer van Alpakkas

©Marinda Louw

Alpakkas word eenkeer per jaar geskeer, gewoonlik in die lente - September of Oktober, afhangende van die temperatuur - en kan so jonk as ses maande geskeer word. Skeertoerusting soortgelyk aan dié vir skape word gebruik, hoewel ‘n spesiale alpakka-lem gebruik word wat ten minste 4mm haar op die liggaam agterlaat. Alpakkas het stywer velle as skape en moet baie versigtig geskeer word om besering te voorkom.

Die skeersel van die skof (basis van die nek) tot by die stert en op die sye van die dier is die beste kwaliteit. Dit word ‘prima’ of ‘firsts’ genoem. Die ‘seconds’ is die vesels op die bene en die nek. Die vesels op die kop en die ‘kappie’ word geskeer wanneer dit té lank word en die alpakka se visie versper, maar word selde gebruik omdat dit te grof is.

Translated by Elna Van Rhyn