Hedgehog
Krimpvarkie

© Roger de la Harpe

Naam

Krimpvarkie (Atelerix frontalis)

Voorkoms

Krimpvarkies is klein insekvreters, wat gekenmerk word deur hul spits gesigte en kort, skerp pennetjies wat die lyf vanaf die voorkop, oor die rug tot onder die sye bedek en dien as beskerming teen roofdiere. Hulle is ongeveer 200mm lank met 'n kort stertjie van 20mm.

Dieet

Krimpvarkies eet insekte soos kewers, termiete, sprinkane en slakke. Hulle eet ook jong knaagdiere, kleiner voëls se eiers en kuikens, paddas en akkedisse. Selfs swamme en groenigheid word soms in hulle dieet ingesluit. Hulle is blykbaar nie so afhanklik van water nie.

Voortplanting

Die Teelseisoen strek van Oktober tot April. Hulle kleintjies word grootgemaak in ’n skuiling van neste of gate wat met droë blare en ander plantmateriaal uitgelê is. Dratyd duur van vyf tot ses weke en daar is een tot nege kleintjies in die werpsel.
Die kleintjies is haarloos en blind by geboorte en hulle ore is toe. Onder die vel van pasgeborenes is die eerste pennetjies reeds sigbaar. Gepigmenteerde pennetjies verskyn na een dag en hierdie pennetjies word tussen vier tot ses weke na geboorte met volwasse pennetjies vervang. Die kleintjies word op ongeveer vyf weke gespeen.

Sosiale gedrag

Krimpvarkies is gewoonlik nagdiere en alleenlopend.

Habitat

Krimpvarkies bewoon oop graslande of oop beboste gebiede. Hulle woon in ’n wye verskeidenheid habitatte, maar vermy gewoonlik ’n vogryke omgewing.