Grenache Noir

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Grenache noir is ‘n veelsydige druifvariëteit wat gebruik word in die produksie van rooi-, vonkel-, soet- en gefortifiseerde wyne. Die herkoms is onbekend.

Oorsprong

Die variëteit is waarskynlik afkomstig uit Cariñena, Aragon, in die Noord-ooste van Spanje, vanwaar dit versrei het na ander lande in wat toe ‘n koninkryk was, insluitend Sardinië, Sicilië en Napels, sowel as Rousilon en Corsica in Frankryk wat ook deel was van die streek.

Teen die 18de eeu was die variëteit goed gevestig in Languedoc, Suid-Rhone en Provence. Die filloksera epidemie van die laat 19de eeu het ook aanplantings indirek aangemoedig, aangesien boere aangetaste wingerde vervang het met die snelgroeiende, maklik entbare Grenache. Die variëteit het met verloop van tyd een van die mees aangeplante druifsoorte geword, veral rondom die Mediterreense see.

Ander Name

Verskeie sinonieme bestaan, soos Alicante in Frankryk; Granaccia in Italië en Garnacha in Spanje.

Verbouing in Suid-Afrika

Dis onseker wanneer Grenache in Suid-Afrika arriveer het. Een teorie is dat James Busby, die Skot wat beskou word as die “vader” van die Australiese wynbedryf, steggies hier agtergelaat het op ‘n reis vanaf Perpignan in Frankryk na Australië in die 1930’s.

Die wingerde was reeds goed gevestig toe Professor Abraham Izak Perold in 1907 bewys het dat die Grenacha wat hy vanaf Rioja in Spanje ingevoer het dieselfde was as die Grenache noir van Montpellier in Frankryk. Grenache blanc het waarskynlik in Suid-Afrika aangekom in 1970, terwyl Grenache Gris plantmateriaal eers in die laat 1990’s beskikbaar geword het.

Produksiestreke

Produksie is steeds redelik beperk in Suid-Afrika, maar het konstant toegeneem tydens die laaste dekade. Tussen 1999 en 2016 het die area onder Grenache vergroot van ongeveer 28ha na 110ha, terwyl die area onder Grenache noir vergroot het van ongeveer 42ha tot meer as 340ha.

In dieselfde tyd het die area onder Grenache gris klein gebly, van niks tot sowat 3ha. Al die Grenache gris wingerde is in die Paarl. Grenache noir wingerde kom voor in al die wynproduserende streke van die land, met die Swartland en die Paarl wat meer as die helfte van die area onder die variëteit bevat. Dieslfde kan gesê word van Grenache blanc, behalwe dat dit nie in die Noord-Kaap geplant word nie.

Groei

Grenache noir is ‘n gematigde tot kragtige groeier en baie geskik vir warm, droë toestande. Die variëteit het ‘n hoë produksiepotensiaal met opbrengste wat wissel tussen 15t/ha tot 20t/ha.

Rypwording

Granache noir druiwe word ryp in die mid-seisoen, vanaf die eerste helfte van Maart.

Korrels

Grenache noir korrels is mediumgroot, rond tot ovaalvormig met ‘n donkerpienk kleur wat blouswart verkleur soos hulle ryp word. Die doppe is taai en die binnekant sappig.

Blare

Die blare is blink met ‘n geelgroen kleur. Dis rond tot amper nietjievormig en meestal drielobbig.

Peste en Plae

Hierdie variëteit is sensitief vir fungusse soos witroes en donsskimmel; verrotting, botritis en grysvrot. Streepvlek mag ook probleme veroorsaak.

Gebruike

Die variëteit is veral gewild in Rhône-styl versnitte, tesame met Shiraz, Mourvèdre, Carignan en Cinsaut, of as ‘n versnit roséwyn, Provence- of Tavelstyl, met Cinsaut, Shiraz, Mourvèdre, Clairette, Grenache Blanc en Chenin blanc. ‘n Toenemende aantal Suid-Afrikaanse wynmakers het begin om interessante enkelvariëteit Grenache wyne te maak.

Smaak

Die variëteit produseer tipies wyne met bessie- en spesery-aromas.Translated by Elna Van Rhyn