Eksterne Parasietbestuur

© Chris Daly

Hoewel die bestuur van eksterne parasiete in die verlede nagelaat is, speel dit nou ‘n noodsaaklike rol in die grootmaak van gelukkige, gesonde voëls.

Voorkomingsmaatreëls

©Chris Daly
Voëls en hul omgewings behoort gereeld geïnspekteer te word sodat probleme vroegtydig identifiseer kan word voordat hulle buite beheer raak. Die beste tyd om te soek na voëlluise is gedurende die dag, terwyl rooimyt- en bosluisbesmetting snags opgespoor kan word. Rooimytbesmetting is moeilik om op te spoor omdat dit gewoonlik eers sigbaar word wanneer daar reeds grootskaalse besmetting is. Bosluise is weer maklik om raak te sien, veral wanneer hulle met bloed gevul is.

Gedurende inspeksie moet die vere van die voël tot teen die vel oopgedruk word. Volwasse luise word gewoonlik aangetref waar hulle rondom die basisse van vere rondkruip, terwyl saamgekoekte luiseiers teen die veerskagte gesien sal word. Luise hou spesifiek van die donsvere onder die vlerke en rondom die uitskeidingsopening, daarom behoort hierdie plekke eerste ondersoek te word vir besmetting.

Dopmyte affekteer slegs die bene, terwyl noordelike hoendermyte gewoonlik gevind word rondom die uitskeidingsopeninge van voëls. Erge besmetting sal veroorsaak dat vere swart word weens die mytuitskeidings en eiers.

Vlooie neig om ‘n seisoenale probleem te wees. Dit sal daarom wys wees om voëls voorkomend te behandel, veral gedurende die warmer maande. Soms is die seisoenale element nie teenwoordig nie.

Wees versigtig om nie besmette voëls by bestaande troppe te plaas nie. Nuwe voëls moet eers deeglik ondersoek en vir parasiete behandel word en weg van bestaande voëls onder kwarantyn gehou word vir etlike weke om seker te maak dat hulle nie enige risiko’s dra nie.

Hou honde, katte, voëls en ander diere wat hierdie parasiete mag dra weg van dir produksiearea.

Stofbad en pluis van vere is die natuur se manier om hierdie plae te hanteer. Ontbekte voëls, voëls met oorgroeide bekke en voëls wat nie toegang het tot stofbaddens nie dra ‘n hoër risiko om besmet te word.

Gebruik hout-as in stofbaddens. Hout-as help om eksterne parasiete te versmoor en te laat afval, terwyl dit ook die liggaam reinig van olies, vuiligheid en stof waarvan die parasiete lewe. Die as kan gemeng word met sand of veen en in ‘n ou blik of plastiekbad geplaas word wat maklik is om skoon te maak.

Hokke moet gereeld skoongemaak word, en indien moontlik, ontsmet word na elke produksiesiklus.

Sommige boere bevel aan dat sekere insekwerende kruie rondom die produksiearea geplant word en ook in neskaste geplaas word. Die lys kruieplante sluit in laventel, lourier, afrikaner, bloekom, oreganum, peperment, alsemkruid en groenment.

Voorkomende bespuiting mag nodig wees in areas waar bosluisprobleme algemeen is.

Bestuurswenke

©Chris Daly
Gebruik geregistreerde produkte om probleme te bestry en gebruik hulle slegs volgens gebruiksaanwysings. Die KwaZulu Natal Departement van Landbou en Omgewingsake bevel aan in hulle Huishoudelike Hoenderproduksie Handleiding dat Karbadust gebruik moet word vir die beheer van luise, myte en bosluise op voëls.

Produsente word aangeraai om die besmette voël in ‘n sak te plaas sodat die kop uitsteek, dan die Karbadust in die sak te strooi en dan die sak saggies te skud om sodoende die voël te poeier. Dit moet slegs op die voëls gebruik word en nie in die hokke nie.

Vir dopmyte op die bene bevel die Departement aan dat die bene gesmeer moet word met Benzyl Benzoate. Dit kan by apteke gekoop word waar dit bekend staan as Ascabiol, wat gewoonlik gebruik word om scabies (help-my-krap) in kinders te behandel.

In die meeste gevalle is dit nie goed genoeg om slegs die voëls te behandel nie. Hulle omgewing moet ook behandel word om volwassenes, larwes, papies of dormante eiers wat in holtes of neste mag skuil, uit te roei. ‘n Geregistreerde produk moet gebruik word en die behandeling moet herhaal word volgens produkspesifikasies sodat suksesvolle uitroeiing verseker is. Skuilplekker soos krake en skeure moet ook verseël word.

Om te verhoed dat bosluise op voëls klim, moet weiveld en gras behandel word en onkruid rondom die hokke moet verwyder word.

Spesiale Oorwegings

Bosluise moet versigtig verwyder word. Gewoonlik bly die kop agter as ‘n bosluis afgepluk word en veroorsaak dan infeksies of absesse.

Klam toestande vererger probeme met dopluise op bene.

Voëls met geveerde bene is meer geneig tot dopluisbesmetting as voëls met kaal bene.

Rooi myte is baie moeilik om te beheer omdat hulle vir etlike maande kan oorleef sonder om aan hulle gasheer te vreet. Die beste manier om van hulle ontslae te raak is om van al die voëls ontslae te raak en daarna die hok deeglik skoon te maak en te behandel. In sommige gevalle gaan produsente selfs so ver as om al die nesmateriaal en wegdoenbare materiaal op die perseel te vebrand.

Dopmyte op die bene neig om ‘n nuwe gasheer te soek sodra die liggamstemperatuur van die bestaande gasheer daal weens siekte of dood. Voëls met hierdie myte moet daarom geïsoleer word vir behandeling sodat die myte nie na ander voëls kan versprei nie.

In die vroeë stadiums van besmetting kan dopmyte op die bene behandel word met ‘n sagte olie soos medisinale paraffien. In ernstiger gevalle moet die voël se bene eers in warm water geweek word om die doppe sag te maak, waarna dit drooggemaak en met ‘n olie soos olyfolie of kookolie gesmeer word voordat ‘n geregistreerde produk aangewend word. Die behandeling moet verskeie keer per week herhaal word totdat al die myte dood is. Sommige produsente het na bewering goeie resultate met Vaseline behaal om hierdie myte dood te maak.

Daar moet versigtig gewerk word om nie die skubbe op ‘n voël se bene op te lig nie omdat dit groot pyn en skade aan die voël kan veroorsaak.

Indien u twyfel, raadpleeg ‘n veearts of ‘n landboubeampte.

Translated by Elna Van Rhyn