Draakvrugte is die vrug van ‘n rankende, tropiese plant wat lid is van die kaktusfamilie (Cactaceae). Dit word ook dragon fruit, strawberry pear, koningin van die nag, maanblom of edel dame genoem. Dis inheems aan Mexiko, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika.
Hierdie rankende, druiwestok-agtige kaktus met lugwortels, produseer reuse geskubde ovaalvormige vrugte wat tussen 150 en 600 g kan weeg en wissel tussen rooi-pienk tot geel van kleur. Waar dit wild groei, word dit deur bome ondersteun en dit het ‘n indringerspesies geword in baie lande, insluitend sommige areas in Suid-Afrika. Onder boerderytoestande word die plant opgelei sodat uitgebreide groei en gemaklike oes van die vrugte moontlik is.
Draakvrugte word hoofsaaklik vars geëet en smaak die beste wanneer dit verkil is. Die dik skille word maklik verwyder om die wit of pienk, tot rooi vrug, gespikkel met klein, swart saadjies te onthul.
Die skil van die draakvrugte kan wissel van pienk tot geel, en die vrug self kan wit, bleek-pienk tot helder-pienk of diep-rooi wees met klein swart saadjies, soortgelyk aan dié van kiwi-vrugte.
Daar is voorheen aangeneem dat die geur van draakvrugtes ooreengestem het met die kleur van die vrugte. Wit vrugte het nie so ‘n skerp geur gehad nie terwyl kultivars met pienk of rooi vrugte dikwels soeter en sappiger was. Weens die ontwikkeling van beter kultivars is hierdie maatstaf nie langer geldig nie.
Die drie variëteite waarmee oor die algemeen geboer word is: pienk-rooi skil met rooi vrugte; die skaarser geelkleurige skil met die wit vrugte en die pienk-rooi skil met wit vrugte.
Tans (2019) word daar met twee variëteite draakvrugte in Suid-Afrika geboer. Hylocereus undatus het wit vrugte en Hylocereus costaricensis het rooi vrugte. Beide spesies het pienk-rooi skille, maar die soeter Hylocereus costaricensis met die pienk vrugte het ‘n hoër suikergehalte en is meer gewild.
Die geel draakvrugte, Hylocereus megalanthus, is ‘n winter-blommende spesies. Dis kleiner en groei stadiger as die ander variëteite en is meer vatbaar vir peste en plae. Dit is soeter as die rooi-skil variëteite. As gevolg van Suid-Afrika se klimaat is die geel draakvrugte nie geskik vir plaaslike produksie nie.
Nuwe kultivars vanaf Suid-Amerika en sommige wat in Kalifornië ontwikkel is, word in Suid-Afrika geplant om “tradisionele” draakvrugtekultivars in Suid-Afrika te vervang met soeter kultivars.
Sommige draakvrugte variëteite soos die “Ruby Red” in Indonesië dra vrugte vanaf Januarie tot Desember. Toestande in Suid-Afrika is egter nie geskik vir heeljaar-produksie nie en hierdie variëteit word slegs in die somermaande geoes.
Translated by Elna Van Rhyn