Die Vredefortimpak

© David Fleminger

‘n Reuse Bolide

2 Biljoen jaar gelede was daar nog geen plantegroei op die planeet nie, en die enigste teken van lewe was bakterieel. Maar dinge het op die punt gestaan om lelik te raak. ‘n Reuse bolide is in die aarde se swaartekragveld ingetrek en was besig om te versnel na die aarde se oppervlakte. As die bakterieë bene gehad het, het hulle seker weggehardloop!
Ons is nie seker of hierdie bolide ‘n asteroïede (‘n soliede, rotsagtige projektiel) of ‘n komeet (met ‘n kern van ys en rots en ‘n stert van gas) was nie. Ons is ook nie seker hoe vinnig dit getrek het nie, hoewel dit waarskynlik vinniger as 20 kilometer per sekonde was. Te oordeel aan die krater wat dit veroorsaak het, word daar vermoed dat dit tussen 5 en 15 kilometer in deursnee was, afhangend van die spoed, digtheid en hoek van impak. Dit maak dit effens groter as Tafelberg!

Dit Het Hard Getref

Soos die bolide nadergekom het, het die aarde asem opgehou, en toe tref dit. Hard! Die punt van impak was naby die hedendaagse dorp, Vredefort, ongeveer 120 kilometer suid-wes van Johannesburg, en die nagevolge het nuwe betekenis gegee aan die woord “katastrofies".
Die kinetiese energie van die projektiel het die ekwivalent van 100 miljoen megaton dinamiet (100 triljoen ton plofkrag) vrygestel toe dit die aarde tref. In vergelyking, het die kragtigste atoombom wat ooit ontplof het, slegs 50 megaton vrygestel. Binne minute is ‘n totaal van 70 000 kubieke meter grond uit die aarde uitgeskiet die lug in, tesame met ‘n reuse stofwolk wat die atmosfeer ingeblaas is en die son heeltemal verduister het.
Rotsafval het op die aarde neergereën oor honderde kilometer en stormwinde het oor die aarde gewoed teen meer as duisende kilometer per uur. ‘n Krater dieper 50 kilometer is uit die aarde gegrawe en die grond is omgedolwe. Tesame hiermee het die impak ook grondverskuiwings en aardbewings veroorsaak wat die kors gebreek en ‘n verskeidenheid ander natuurrampe veroorsaak het wat regoor die planeet gevoel is.

Die Vredefort Koepel

Die steil walle van die krater het egter gou ineengestort en in stede daarvan het ‘n vlak krater met ‘n deursnee van ongeveer 300 kilometer gevorm. In die middel het ‘n sentrale opwelling plaasgevind toe die swaar saamgeperste grond teruggespring het in ‘n koepelagtige struktuur, soos wanneer jy in ‘n swembad spring. Die Vredefort Koepel is geskep. ‘n Aantal konsentriese, sirkelvormige riwwe is met gereelde tussenposes oor die krater gevorm, soos rimpelings in ‘n versteende poel.
Die meeste van hierdie ontsagwekkende gebeurtenisse het plaasgevind binne 15 minute na die aanvanklike impak! Indien daar enige lewe op aarde was, anders as bakterieë, sou hierdie impak die massauitwissing van baie spesies beteken het. Dit was basies die moeder van alle meteorietimpakte – die grootste en die vroegste impakgebeurtenis nog geïdentifiseer op die aarde. So, kom ons wag vir die stof om te gaan lê sodat ons kan nader gaan om beter te sien.

Translated by Elna Van Rhyn