Die Skeer van Angorabokke

©Mohair South Africa
Angorabokke kan elke ses maande geskeer word. Gewig van die skeersel varieer met ouderdom – vanaf 500g vir lammers tot 2kg vir volwasse bokke. Die hare/vag van die Angorabok word sybokhaar genoem en nie ‘angora’ nie. Angora word verkry van Angorakonyne.
Algemene skeerwenke: ‘n Skoon bok is makliker om te skeer as een wat vuil is. Die bok moet droog wees. Om te knip is makliker as om te skeer, veral vir ‘n beginner. Moenie dieselfde area tweekeer knip nie want lang vesellengtes lewer ‘n draad van ‘n hoër kwaliteit.
Indien Angorabokke nie gereeld geskeer word nie, raak hulle vatbaar vir parasiete en siektes. Lang hare mag ook sig en beweging strem, sodat ‘n bok nie kan eet en drink soos hy moet nie. Dit mag ook lammers se suipery bemoeilik.

Hantering van Angorabokke

©Marinda Louw
Terwyl Angorabokke geskeer word, moet hulle met geduld hanteer word en toegelaat word om hul normale gedragspatrone te volg – nuuskierig en intelligent. Die skeerdery is stresvol vir bokke en rowwe hantering van bokke moet vermy word. Bokke mag bokant die hakskeen of aan die horings gevang word, afhangend van hul ouderdom, maar moet nooit aan hul bene gesleep word nie. Moenie elektriese skokstokke op bokke gebruik nie.
Bokke moet in ‘n stut geplaas word, of teen jou bene gestut word. Die skeerdery moet by die bok se agterkant begin en vorentoe beweeg. Werk stadig en skeer na-aan die bok se lyf.

Higiëne Tydens Skering

Die voorkoming van die oordrag van siektes is baie belangrik tydens die skeerproses. Skeertoerusting en skeerders (of masjienskeerders) kan aansteeklike siektes binne ‘n trop versprei of selfs tussen troppe, dus is die korrekte ontsmettingsprosedures belangrik. Begin eers die jong bokke skeer sodat siektes nie vanaf die oues na die jonges oorgedra word nie.
Voordat die skeerproses begin moet die hele skuur skoogemaak en ontsmet word. Nadat die skeerproses afgehandel is, moet die sybokhaar geklas en verpak word en uit die skuur verwyder word, en die skeertoerusting ontsmet word. Skeertoerusting moet ook met gereelde tussenposes tydens die skeerproses ontsmet word om die verspreiding van siektes te voorkom.
Indien ‘n skeerder ‘n abses op ‘n bok raakgesny het, moet die persoon onmiddellik ‘n skoon broek gaan aantrek. Die skeerarea moet ook ontsmet word.
Dooie diere moet nie in ‘n skeerhok afgeslag word nie en siek diere moet ook nie in ‘n skeerhok gehou word nie. Velle en pelse moenie behandel, gedroog en gestoor word in ‘n skeerhok nie.
Geakkrediteerde skeerders moet verkieslik die bokke skeer. Maak seker dat skeerwonde ontsmet word en ook ‘n vliegafwerende wondolie op kry om infeksie te voorkom. Bokke moet voer en vars water kry so gou moontlik nadat hulle geskeer is.
Maak baie seker dat geskeerde diere nie blootgestel word aan ongunstige weerstoestande soos koue en nattigheid nie. Maak seker dat hulle skuiling het en voeg ‘n bietjie hoë energievoer by hul rantsoene.

Translated by Elna Van Rhyn