Vir 75 jaar het die mense van Mapungubwe relatief deftig gelewe. Hulle het regeer oor 'n staat wat 30 000 vierkante kilometer gedek het en handel gedryf met plaaslike stamme en met die handelaars by Sofala en Chinuebe.
Toe het dit ewe skielik skeef geloop. In 1290 n.C. is die hoofstad skielik verlaat en die mense van Mapungubwe het versprei. Dit is moeilik om onweerlegbaar te wees wanneer daar teruggekyk word na die ongedokumenteerde eeue.
Miskien het die ou koning gesterf sonder om 'n opvolger te verlaat; miskien was die opvolger te swak en hy kon nie die staat regeer nie; miskien was daar 'n twis tussen die koninklike familielede; miskien is hulle deur 'n ander stam binnegeval (hoewel dit onwaarskynlik is); miskien het 'n ander dorp beheer oor die handelsroetes in die binneland geneem; of dalk was dit die wispelturige klimaat wat die einde van Mapungubwe tot gevolg gehad het.
Laasgenoemde moontlikheid word beskou as die waarskynlikste.
Omgewingsrekords toon daar die begin van 'n “Klein Ystydperk” rondom 1300 n.C. was, maar net 'n klein een. Dit was egter genoeg om die lewe van 'n prehistoriese landbougemeenskap drasties te verander.
Die goeie reënval wat al sedert die begin van die K2-dorpsera geval het, het opgedroog en die ergs te droogte in duisende jare veroorsaak. Die Limpoporivier het wisselvallig geword en het op die verkeerde tye oorvloed en die gewasse vernietig. Hierdie voedselkrisis was moontlik vererger deur 'n plaag wat deur plaaslike rotte (rattus-rattus) versprei is.
Met die ineenstorting van die voedselvoorraad kon die sentrum nie meer volhou nie en die hoofstad het tot niet gegaan. Mapungubwe se vermoë om aan te hou handel dryf was onherroeplik in gevaar gestel en 'n top-swaar regeringstelsel was heeltemal onvoorbereid om die daaropvolgende krisis te hanteer.
Dit was die einde van die Mapungubwe-staat. 'n Koning is immers niks sonder sy mense nie.
Die mense van Mapungubwe het gevolglik hulle goue grafte verlaat en weggegaan om hulleself in nuwe gebiede in die suide en noordooste te vestig. Soos die geval vir baie ander antieke beskawings was hulle vertrek skielik en daar geen samehang met daaropvolgende gemeenskappe nie.
Hulle kultuur het nie voortbestaan nie en die Mapungubwe-gebrandmerk erdewerk is nie teenwoordig by enige van die volgende terreine nie. Vir die volgende 700 jaar het die heilige heuwel sy geheime gehou.
Dit is nooit hervestig deur die daaropvolgende stamme wat in die gebied ingetrek het nie, en die identiteit van die Mapungubwe-mense het in die niet van die geskiedenis verdwyn. Trouens, ons weet nog baie min oor hulle.
Kulturele eienskappe soos taal, musiek en godsdienstige oortuigings los nie enige fisiese spore na nie. Ons kan dus net raai oor die betekenis van die verskillende grafgoedere en bespiegel oor die spesifieke aspekte van hul sosiale organisasie. Trouens, ons weet nie eers wat hulle hulself genoem het nie, aangesien “Mapungubwe” 'n moderne term is.
In elk geval, dit word geglo dat, soos die hoofstad ontbind het, 'n deel van die bevolking na die opkomende stad Groot-Zimbabwe verskuif het. Dit was 'n bestaande nedersetting, sowat 150 km weg na die noordooste, met sy eie erdewerk en tradisie.
Met die val van Mapungubwe het Groot Zimbabwe stadig oorgeneem as die primêre handelsentrum van die ooskus. Soos dit ontwikkel het, het Groot-Zimbabwe ook baie van die kulturele tradisies en ruimtelike onderskeidings van Mapungubwe aangeneem en uitgebrei om 'n wonderlike stad van klip te skep, met hoë mure en enorme omheinings.
Hierdie wonder van die antieke wêreld is ook 'n Wêrelderfenisgebied, en het sy eie onstuimige geskiedenis.
Translated by Nina Joubert