Deklaag - Grondinstandhouding

Die gebruik van deklae in ‘n tuin of op ‘n plaas kan groot voordele inhou vir die algehele gesondheid van die grond en plante. Grond wat bedek is met ‘n deklaag het minder onkruid en is meer droogtebestand as grond wat nie bedek is nie, en plante groei beter.

©Marinda Louw

Wat is ‘n Deklaag?

‘n Deklaag is materiaal wat op die oppervlakte van die grond geplaas word om dit te bedek soos ‘n kombers. Dit kan óf organies, óf anorganies wees. Voorbeelde van organiese deklae is kompos, ou strooi, blare, snoeisels, houtprodukte, koerante of platgerolde dekgewasse, terwyl anorganiese deklae geotekstiele (landskap materiale), velle plastiek en herwinde buitebande insluit.

Voordele van Deklae

©Abhay Iari

Deklae verminder die verdamping van water uit die grond, verhoed gronderosie en onderdruk die groei van onkruid. ‘n Bykomende voordeel van organiese deklae is dat hulle ontbind en ‘n voedingsbron raak vir grondmikrobes wat op hul beurt weer voedingstowwe vir die plant verskaf.

Anorganiese deklae soos plastiek word dikwels gebruik vir plante wat van hitte hou, soos tamaties en eiervrugte, omdat dit die grond warm hou. Dit word ook gebruik om plante wat rank, soos aarbeie en komkommers, te beskerm teen verrotting en om hulle skoon te hou. Anorganiese bedekkings het geen grondverrykingsvoordele nie, en mag die suurstof in die grond verminder terwyl dit die temperatuur laat styg, en veroorsaak dat grondmikrobes doodgaan.

Daar moet kennis geneem word dat die gebruik van moeilike komposteerbare materiale soos houtspaanders, mag lei tot ‘n stikstofonttrekking uit die grond om die koolstofryke houtmateriaal te ontbind. Gebruik vars stikstofryke grasperksnysels as ‘n deklaag in groentetuine en verwerk growwe materiaal tot ‘n fyner tekstuur.

Hoe om ‘n Deklaag te Gebruik

©Marinda Louw

Deklaagmateriaal kan gekoop word, maar dis baie meer volhoubaar om materiaal te gebruik wat in die tuin of op die plaas geproduseer word. Gebruik snoeisels uit die boord, blare, grasperksnysels en houtspaanders as deklae. Verwyder eers die onkruid en maak die grond goed nat. Wend die dekmateriaal in ‘n dik laag aan – van 2.5 cm tot 15 cm dik – afhangende van die fynheid van die materiaal. Fyn dekmateriaal moet ongeveer 5 cm diep versprei word, terwyl growwe dekmateriaal soos bas, 10 cm diep kan wees. Hou dekmateriaal ten minste 15 cm ver van die stamme van plante en bome af omdat dit verrotting kan veroorsaak weens die klammigheid wat dekmateriaal kan veroorsaak.

Indien koerantpapier as deklaag gebruik word, gebruik vier tot agt lae klam koerantpapier en bedek dit dan met ‘n ander organiese dekmateriaal. ‘n Deklaag kan gebruik word waar dekgewasse in boorde geplant is. Byvoorbeeld, dit kan opgekap en in die grond ingeploeg words as beide groen kompos en as deklaag of bloot platgerol word om ‘n stikstofryke groen deklaag te verskaf.

Translated by Elna Van Rhyn