Bye en Bestuiwing

©Marinda Louw
Bye is ‘beroemd’ vir die heuning (en ander produkte) wat hulle produseer. Daar is ook ‘n toenemende bewustheid van die baie belangrike diens wat bye lewer in die bestuiwing van plante. Die waarde van heuningbye as bestuiwers mag nog hulle waarde as heuningproduseerders oortref. In Suid-Afrika is sommige plante totaal afhanklik van bye vir bestuiwing om te verseker dat hulle vrugte kan dra.
Dit sluit in aarbeie, bloubessies en swartbessies, olieplante soos sonneblom, en neute soos amandels en makadamias. Sagtevrugte soos pruime, pere en appels het ook bye nodig om hul bloeisels te bestuif sodat hulle kan vrugte dra.

Byeboere vs Landbouers

©Louise Brodie
Volgens Dr Tlou Masehela van die South African National Biodiversity Institute (SANBI) verskil die ooreenkoms tussen byeboere en saaiboere vir bestuiwingsdienste van grondeienaar tot grondeienaar en selfs die tipe gewas.
Vir sitrus en kanola, waar geen bestuiwing deur bye nodig is nie, is daar geen betaling deur die landbouer aan die byeboer ter sprake nie, maar die landbouer mag ‘n vorm van kompensasie van die byeboer vra, soos byvoorbeeld heuning.
Vir bestuiwingsafhanklike gewasse soos appels en pruime betaal die vrugteboer die byeboer. Waar daar ‘n mengsel is van gewasse en natuurlike plantegroei mag beide die landbouer en die byeboer mekaar iets in ruil aanbied.
In enige van hierdie gevalle mag daar ‘n formele ooreenkoms (kontrak) wees of dalk nie, hoewel daar gewoonlik ‘n kontrak is tussen die landbouer en die byeboer wanneer daar betaal word vir bestuiwingsdienste.

Die Koste van Bestuiwingsdienste

Die weiveld vir bye in Suid-Afrika word al hoe kleiner en beperk die produksie van heuning tot ongeveer 10-12 kg per kolonie per jaar. Dit is baie minder in vergelyking met die VSA (30kg/jaar) en Australië (50kg/jaar). Daarby is die prys van heuning in Suid-Afrika laag en onder druk weens goedkoper invoere teen R50/kg (2017). Weereens vergelyk hierdie pryse swak met die VSA (R75/kg) en Australië (R80/kg). Lae produksie en die prys van heuning verhoog die belangrikheid van betaalde bestuiwingsdienste vir byeboere in Suid-Afrika.
In 2017 is daar narvorsing gedoen deur Mike Allsopp van die Agricultural Research Council (ARC) of Landbou Navorsingsraad en Dr Masehela, wat verduidelik dat die prys van bestuiwingsdienste bepaal word deur aanvraag en beskikbaarheid en nie konstant is tussen oeste en seisoene nie.
In Amerika kompeteer gewasse soos bloubessies en amandels wat in die vroeë lente blom vir bestuiwingsdienste, wat die prys daarvoor laat styg. Allsopp en Dr Masehela se navorsing bewys dat die prys van amandelbestuiwing binne ‘n paar jaar gestyg het van $35 tot $180 per kolonie. Gewasse wat later in die seisoen blom (soos appels) mag weer ‘n oorvloed kolonies beskikbaar hê gepaard met ‘n laer bestuiwingsprys.

Bestuiwingstariewe

©Forest and Kim Starr
In Suid-Afrika is daar ‘n aanbevole bestuiwingstarief. Die tarief is slegs ‘n riglyn en word nie gebruik deur alle byeboere nie, afhangende van die gewas. Sommige gewasse, soos bessies, pampoene, makadamianeute en litchis, veroorsaak meer stres vir die bye as ander en daarom vra byeboere meer vir die bestuiwing van hierdie gewasse.
Die bestuiwingstarief word bereken deur middel van ‘n komplekse formule wat byeboerderyonkostes soos vervoer, suiker (voeding) en arbeid insluit. In 2018 was die aanbevole bestuiwingstarief R802 vir een bestuiwingseenheid. ‘n Bestuiwingseenheid is een korf vir ‘n maksimum van 21 dae. Dit word ‘n bestuiwingsgolf genoem. Na hierdie tydperk kan die byeboer dieselfde tarief vra of met die boer onderhandel en die tarief daarvolgens aanpas.

Translated by Elna Van Rhyn