Buffalo Thorn
Blinkblaar-wag-‘n-bietjie

© Shem Compion

Naam

Blinkblaar-wag-‘n-bietjie

Latynse Naam

Ziziphus mucronata

Beskrywing

Dis ‘n bladwisselende boom wat tot 17m hoog word. Die boom groei vining en is ryp-en droogtebestand. Die bas is skurf en donkergrys tot bruin van kleur. Die silwer-groen blomme word gedra in digte trossies tussen die bare, vanaf April tot Oktober, en die vrugte kom voor vanaf Februarie tot Augustus. Die dorings, een krom en een reguit, sit in pare aan die takke.
In sommige gevalle mag volwasse bome al hul dorings verloor. Die blomme lok baie insekte en voëls eet graag die groot rooi bessies. Die boom maak ‘n uitstekende grensversperring omdat die jong plante oorvloedige dorings het wat baie moeilik is om los te haak weens die feit dat die een voorentoe en die ander na agter wys. Die blink, ligtegroen blare verleen aan die boom die ‘blinkblaar’ gedeelte van sy Afrikaanse volksnaam.

Gebruike

Takke word gebruik om beeskrale en grafte te beskerm. Die hout word gebruik as implemente en brandstof. Blare, bas en wortels word medisinaal en in towerkuns gebruik vir pynverligting, asemhalingsprobleme en velinfeksies en veral vir bors-en maagongesteldhede. Gekneusde blare word gebruik om bloeding te stop. Sommige stamme glo dat die boom gebruik kan word as skuilplek teen weerlig.

Waar hulle voorkom

Die blinkblaar-wag-‘n-bietjie kom voor vanaf Arabië tot in die Wes-Kaap.

Veldaantekeninge

Die boom speel ook ‘n groot rol in die geloof van die mense van Afrika, soos bv. die Zoeloes, wat ‘n tak van die blinkblaar wag-‘n-bietjie gebruik om die gees van ‘n gestorwe persoon vanaf sy sterfplek na sy graf te dra. As daar per voertuig gereis word, word die tak alleen op ‘n sitplek geplaas vir die hele reis. In Botswana word geglo dat die boom ‘n mens sal beskerm teen weerlig.