Brakslaai vir Slaai
‘n Eenvoudige plant met ‘n ingewikkelde naam; die crystalline ice plant (Mesembryanthemum crystallinum) het baie volksname soos Rosa de Jericho of brakslaai, noeta en olifantslaai.
Die brakslaai is ‘n laaggroeiende ranker met vlesige, plat groen tot rooi blare wat bedek is deur miniatuur blasie-agtige hobbeltjies. Die blare is eetbaar. Die plant wat heeljaar blom, het pienk blomknoppe wat delikate veelblarige wit blomme produseer.
Die plant is uiters bestand teen sout en kan groei in grond met ‘n soutinhoud soortgelyk aan die van seewater. Hierdie uiters droogte- en stresbestande plant wat inheems is aan Afrika, is deur skepe na Kalifornië geneem in die 1500’s en is is sedertdien as ‘n indringerplant in die VSA verklaar.
Gebruike van Brakslaai
‘n Groep Japannese navorsers van die Saga Universiteit het 20 jaar geneem om ‘n kommersiële brakslaai wat hulle in ‘n woestyngebied in Suid-Afrika gekry het, te ontwikkel en dit Barafu genoem. ‘Barafu’ beteken kristal of ys in Kiswahili, en verwys na die voorkoms van die blare. Barafu is ‘n spesialiteitsitem wat uitgevoer word uit Japan na Europa en Amerika en verkoop teen vanaf $80 vir ‘n klein pakkie.
Die blare en stingels kan rou geëet word (slaaie) of gekook en het ‘n suur en souterige smaak.
Dit kan gestoom, geroerbraai, geblansjeer of gepiekel word soos komkommers en sal seekosgeregte komplementeer. Gekook word dit as ‘n plaasvervanger vir spinasie bedien. Sade word geëet in tye van erge voedselskaarste.
Brakslaai as Medisyne
Brakslaai word as medisyne gebruik in die behandeling van asemhalings-, blaas- en vaginale inflammasies en in Argentinië word dit gebruik om seksueel-oordraagbare siektes te behandel. Vars sap uit gekneusde blare mag gebruik word vir waterretensie en pynlike urinering en word ook gebruik om inflammasie van die longe te laat bedaar. Die Japannese studie waarna vroeër verwys is, het gevind dat brakslaai hoë antioksidant aktiwiteit het en versamel prolien, ‘n nie-essensiële aminosuur betrokke by die produksie van kollageen (‘n proteïen wat ‘n bousteen van ligamente, senings en die vel is. Prolien kan ook help om wonde te laat genees en is ook ‘n bousteen van ‘n samestelling wat kraakbeen in stand hou en genees en gewrigte, senings en spiere versterk.
Die blare word gebruik in die behandeling van disenterie (infeksie van die ingewande) en siektes van die lewer en niere. Matrose het die blare gebruik om skeurbuik op lang reise te behandel.
Die fyngemmaakte blare word gebruik as ‘n plaasvervanger vir seep en die sap sowel as ‘n ekstrak van die plant word gebruik as velopknappende bestanddele in kommersiële kosmetiese produkte.
Die Kweek van Brakslaai
Brakslaai kan gekweek word van sade. Die spesies het beide manlike en vroulike organe (hermafrodiet) en word bestuif deur insekte. Muise en hase versprei die sade.
Die plant verkies goed-gedreineerde grond en kan groei in arm en sout grond. Dit sal nie groei in die skaduwee nie en is sensitief vir ryp.
Brakslaai versamel nitrate (soute) en stel dit later in die grond vry. Dit kan nadelig wees vir daaropvolgende spesies om hulself daar te vestig. Navorsing het getoon dat brakslaai plaagdoders, kadmium en ander swaar metale mag absorbeer. Daar moet dus sorg gedra word wanneer die plant verbou word dat dit geskik is vir menslike gebruik.
Let asseblief daarop dat inligting slegs vir opvoedkundige en inligingsdoeleindes bedoel is en nie as mediese advies voorgestel mag word nie. Die inligting is ook nie bedoel om mediese advies of behandeling deur gesondheidsorg vakkundiges te vervang nie.
Translated by Elna Van Rhyn