Bestuur van Konynkleintjies

© Judy Stuart

Geboorte en Grootword

Bestuur van konynkleintjies is belangrik as jy wil hê jou besigheid moet suksesvol wees, elke kleintjie wat nie grootword nie is verlore wins. Wins word gemeet as ‘n maaltyd op die tafel, ‘n toekomstige teeldier of ‘n potensiële verkoopbare konyn, en daarom is die versorging van jou kleintjies kritiek belangrik.
Baie telers laat die ma en pasgebore kleintjies vir ‘n week lank ongestoord voordat hulle weer inloer. Ek voel dat die nes eenmaal per dag ondersoek moet word, veral as dit ‘n groot werpsel is of die wyfie se eerste werpsel.
Kyk dat die kleintjies skoon en droog is. Geen ribbes moet uitsteek nie. As die kleintjies maer lyk, ondersoek die wyfie deur met ‘n hand oor haar buik te streel. As haar melkkliere warm en geswel is, het sy dalk mastitis.
As die werpsel uit meer as 7 of 8 kleintjies bestaan, mag die wyfie dalk te min melk hê. Dis altyd ‘n goeie idee om meer as een wyfie op enige gegewe dag te laat paar.
Indien een dan nie regkom nie, kan ‘n paar van haar kleintjies verwyder word (neem die kleinstes) en tussen ‘n ander wyfie se kleintjies gesit word terwyl sy besig gehou word met ‘n lekkerny.
Smeer eers liggies van die nuwe wyfie se reuk aan die ‘pleeg’ kleintjies deur hulle saggies heen en weer onder haar hok te vryf. Die meeste wyfies sal sonder probleme pleegkinders aanvaar.
As albei werpsels dieselfde kleur en ras is, moet die pleegkinders met ‘n koki gemerk word sodat jy steeds sal weet watter kleintjies hoort by watter wyfie. Elke keer as iets verander in die nes moet dit aangeteken word op die hokkaart.
Kleintjies se hare begin groei op ongeveer die 5de dag en hul ogies gaan oop op ongeveer die 8ste – 10de dag. Dit kan gebeur dat ooglede vasplak weens slym. Jy sal opmerk dat die ooglede rooi en ontsteek is.
Spoeg op jou vinger en vee dit op die oog voordat jy die ooglede versigtig van mekaar aftrek. Dit is die beste metode om ‘nesoog’ te behandel.
Sodra die oë oop is, sal die kleintjies begin om rond te beweeg en hulle mag probeer om agter die wyfie aan te gaan wanneer sy die neskas verlaat. Plaas ‘n baksteen voor die kas-opening sodat die kleintjies dit as ‘n trappie kan gebruik om weer terug te klim.
Die kleintjies sal saam met die wyfie vaste kos begin eet vanaf die 16de – die 21ste dag. Hulle kan al die konynpille, groenvoer en hooi eet wat hul ma eet. Dis baie belangrik dat die kleintjies toegang tot water het op hierdie stadium.
As water deur nippels verskaf word, moet daar gesorg word dat hulle laag genoeg is sodat die kleintjies dit kan bykom. As ‘n waterbak gebruik word, moet daar seker gemaak word dat dit vol bly en dat die kleintjies nie daarin kan val en verdrink nie.
Hanteer die kleintjies, hulle is die toekoms van jou boerdery en hulle moet gewoond wees daaraan om deur ‘n mens aangeraak en hanteer te word.

Translated by Elna Van Rhyn