In vroeër tye het die Basotho se daaglikse lewe 'n roetine gevolg met 'n stewige verdeling van arbeid op grond van ouderdom en geslag. Die dag begin met sonsopkoms, wanneer die gesin sou opstaan. Sedert mielies sorghum vervang het as die stapelvoedsel, bestaan 'n tipiese ontbyt uit mieliemeel met gekookte of suurmelk, en soms vleis. Lede van die huishouding eet gewoonlik saam in die hoofhuis of, op sonnige oggende, in die binnehof. Wanneer besoekers teenwoordig is, eet die manne eerste en die vroue en kinders eet die oorblyfsels.
Histories het die Basotho mans in die lekhotla geëet waar hulle vrouens hulle bedien het. Die mans vergader in die lekhotla om deel te neem in 'n verhoor, of om te help om 'n geskil wat na die kaptein of hoofman gebring is te skik; of hulle bespreek aktuele sake. Diegene met spesiale beroepe, byvoorbeeld kruiedokters, waarsêers en mandjie-makers, oefen hul beroepe en vorder die bestanddele en grondstowwe in wat nodig is daarvoor. 'n Groot deel van hul tyd word gewy aan die welsyn van hul vee; toe ploeë wat deur beeste getrek is ingevoer is uit Europa het die manne die verantwoordelikheid van ploeg oorgeneem, 'n taak wat voorheen die werk van vroue was wat met behulp van graafstokke en skoffels die taak verrig het terwyl die manne nuwe gebiede van bos skoongemaak het vir gebruik as velde. In die geheel gesien, was die manne se roetine ongekompliseerd en rustig behalwe in tye van die stroop van beeste.
Vroue se pligte het gewissel afhangende van die seisoen en status, en was strawwer as die mans se pligte. Hulle het die huis uitgevee en skoongemaak, ontbyt voorberei, water gaan haal, en onkruid uitgeroei en die gewasse geoes. Dit kon hulle lank voor sonop tot sononder in die veld hou. Die maal van koring is dikwels gedoen deur die ouer dogters.
Tydens stil tye was die vroue verantwoordelik vir die instandhouding van hul huise, herpleistering van mure en vloere met modder, die vervanging van gebreekte riete in die heinings en ander huishoudelike take wat verrig moes word. Die min vrye tyd wat hulle gehad het is gewoonlik gespandeer op besoeke van vriende en familie.
Vanaf 'n vroeë ouderdom is kinders spesifieke pligte gegee om elke dag uit te voer. Seuns het die gesin se bokke opgepas en, op 'n ouer ouderdom moes hulle die beeste oppas. Meisies het hul ma's met huishoudelike take gehelp.
Translated by Wilma Koeppen