Alpakkas is semi-makgemaakte lede van die Suid-Amerikaanse kameelfamilie. Hulle word al vir millennia gebruik vir hul duursame, sagte en isolerende haar. Alpakkas word eenkeer per jaar in die lente geskeer en kan so effektief voedsel in haar omskakel dat hulle as die mees effektiewe vesel-produserende diere beskou word.
Alpakkahaar is baie fyn en voel daarom donsig, amper syerig. Daar word beweer dat dit vyf keer sterker en fyner is as wol en dis ook langer as die meeste ander natuurlike vesels. Verskeie faktore bepaal die sagtheid van alpakkavesel. Individuele alpakkavesels bestaan uit buitenste ‘skubbe’ wat teen die skag van van die vesel lê. Die skubhoogte van alpakkavesel is ongeveer 0.04 mikron vergeleke met 0,08 mikron vir wol. Dit beteken in die praktyk dat alpakkavesel sagter as wol voel. Die skubbe is langer as dié van wol en sybokhaar, wat die alpakkavesel gladder maak as dié van wol en sybokhaar.
Alpakkavesel is waterbestand, is bestand teen sonligbestraling en bevat mikroskopiese lugsakkies wat daaraan isolerende eienskappe verleen.
Dit bevat nie lanolien nie - ‘n olierige substansie by wol-produserende diere. Die residu van die chemiese middels wat nodig is om lanolien uit skaapwol te verwyder veroorsaak ‘n jeukerigheid as ‘n simptoom van ‘n allergiese reaksie. Alpakkavesel veroorsaak nie hierdie irritasie nie en is geskik om vir babakledingstukke en kledingstukke vir mense met sensitiewe velle gebruik te word.
Alpakkavesel is beskikbaar in 22 verskillende kleure en skakerings en ook verskeie klasse van fynheid van 16 tot 30 mikron. Hoe laer die mikron is, hoe fyner en sagter is die vesel. Kleure wissel van wit, skakerings van bruin en grys tot swart, met wit as die predominante kleur.
Daar is twee fenotipes alpakkas, die Huacaya, met hul meer skaap-agtige, sponsagtige vesel, en die Suri alpakkas met hul langer, gladder vesels. Huacaya vesel is golwende vesels wat hul vorm oor tyd behou en is meer geskik vir gebreide items. Suri vesel het ‘n syerige glans en word verkies vir duurder eindprodukte soos alpakka pakke.
Alpakkavesel moet goed geklassifiseer word om die voorkoms van growwe haar (‘guard hair’ genoem) te verminder. Faktore soos swak genetika, hoë hoeveelhede proteïene in die voer en die dier se ouderdom kan veroorsaak dat vesels growwer word.
Die produksie van alpakkavesel bestaan uit verskeie fasette. Die proses begin by die versameling van die haar. Alpakkahaar of vesel word eenmaal per jaar geskeer in September of Oktober, afhangende van hoe erg die Suid-Afrikaanse winter is. Alle volwassenes en crias (baba alpakkas) vanaf ses maande word geskeer deur ‘n spesiaal opgeleide alpakkaskeerder met behulp van toerusting soortgelyk aan dié vir skape. ‘n Cria lewer ongeveer 1 kg haar terwyl ‘n volwasse alpakka sowat 2.5 kg of meer kan lewer.
Die vesels word dan met die hand skoongemaak om plantmateriaal soos dorings en gras te verwyder. Daarna word alpakkavesel wat dieselfde kleur het bymekaargesit. Sommige alpakkaveselprodusente sal selfs klein bietjies haar bymekaarmaak in ‘n ‘spots lot’, soos bv die bruin haar van ‘n wit dier wat ‘n klein bruin kolletjie het.
‘Skirting’ is die proses gedurende die skeerdery (of agterna) wanneer die ooglopende growwe haar - wat meer as 30 mikrons dik mag wees - verwyder word uit die fyner gedeelte van die vag. Uiteindelik sal die res van die dikker, reguit hare by die verwerkingsaanleg veryder word.
Die vesel word dan vir verwerking na ‘n spesiale aanleg in Butterworth in die Oos-Kaap gestuur. Kalibrasie van masjinerie vir die verwerking van sybokhaar is nie geskik vir die verwerking van alpakkahaar nie. Vesels word eers gewas met kleure wat apart gehou word, lugdroog gemaak en dan gekardeer. Kardering bring die alpakkavesels almal in lyn met mekaar. Nadat hulle gekardeer is, is die vesels gereed om gespin te word in brei of weefdraad.
Om diere te teel vir ‘n spesifieke kleur haar is ‘n ingewikkelde storie, veral die kleur grys. Baie navorsing is algedoen hieroor, sê Alison Notley, president van die South African Alpaca Breeders Society en eienaar van Helderstroom Alpacas.
Australië doen baie om die genetiese kwaliteit van alpakkahaar te verbeter, veral in terme van variasie in veseldikte, vermindering van minderwaardige vaggedeeltes en verlaging in die ratio van primêre tot sekondêre vesels (growwe ‘guard hair’).
Translated by Elna Van Rhyn