Vleisbokke In Suid-Afrika

© Susan Schoenian University of Maryland Extension
Die meeste van die wêreld se 570 bokrasse is ontwikkel uit drie tipe bokke – die Bezoar, Savanna en Nubiese bok-tipes.

Die ontwikkeling van die Boerbok is egter uniek aangesien dit nie spruit uit kruisteling van twee of meer suiwer rasse nie. Die Boerbok se voorouers is in die 1950’s deur ‘n groep boere in die Somerset-Oos distrik van die Oos-Kaap geselekteer en ontwikkel uit inheemse bokrasse van Suid-Afrika.

Navorsing oor vleisbokboerdery is maar nietig vergeleke met dié van ander vleisproduserende vee, maar tog het Suid-Afrika internasionale erkenning verwerf deur die ontwikkeling van die Boerbokras.

Gedurende dieselfde tyd as die ontwikkeling van die Boerbok het Devendra en Burns (1983) navorsing gedoen op Oos-Afrikaanse inheemse bokke. Die navorsing het die reuse potensiaal van hierdie geharde klein herkouers bewys in terme van vleisproduksie.

Vleisbokrasse in Suid-Afrika

Die hoof vleisbokras is die Boerbok – inderwaarheid beskou as die beste vleisbokras in die wêreld. Dit het die beste voer-tot-vleis omsetting. Die ras toon uitstekende groei-, vleis- en karkas kenmerke, dikwels met ‘n 50% opbrengs of selfs meer.

Die ander twee hoof vleisbokrasse in Suid-Afrika is die Kalahari Red en die Savanna, ook beskou as ‘Boerbokke’, net met spesifieke kleuring. DNA toetse het bewys dat daar ‘n groter genetiese verskil is tussen die Boer en die Kalahari Red as tussen die Boer en die Savanna.

Die Kalahari Red word beskou as ‘n inheemse bokras met sy oorsprong in Suider Afrika. Rekords toon aan dat die bokke geselekteer is uit hangoor diere wat meer as 2000 jare gelede migreer het saam met stamme na die suidelike deel van Afrika. Die 100% rooi kleur van die vel verskaf kamoeflering teen predatore in die wildernis en hulle is gehard, hitte- en droogtebestand.

Die wit Savannabok is in 1955 ontwikkel en word beskou as ‘n droogtebestande ras wat ‘n skraal, gebalanseerde karkas lewer. Hulle is baie aanpasbaar en kan suksesvol aangewend word op intensiewe weiding sowel as ekstensiewe weisisteme. Hulle is nie seisoenale telers nie. Savanna kapaters (gekastreerde ramme) het ‘n goeie groeitempo en is ‘n vroeg tot medium-volwasse-tipe. Savannabokke lewer karkasse met goeie konformering – dikte van spier en vet in verhouding tot beenstruktuur.

Inheemse Bokke

Daar is vier eko-tipes (subspesies) inheemse bokke in Suid-Afika. Die Nguni tipe (Mbuzi), Oos-Kaapse Xhosa hangoor, Noord Kaapse spikkelbok en die Kunene-tipe (Kaokoland). Inheemse bokke is meer bestand teen droogte en gehard as Boerbokke en minder gevoelig vir hartwater, ‘n ernstige siekte deur bosluise oorgdra.

‘n Studie deur Ramsay, Smit & Casey (1987) het die inheems bok met die Boerbok vergelyk in omgewings waar protosoïese siektes, vrotpootjie en giftige plante beperkende faktore was. Die bokke is almal evalueer volgens die National Scheme en die data wys dat die inheemse bok meer vleis per eenheidarea as Boerbokke gelewer het.

Die meeste inheemse bokke word verhandel in die informele sektor en geslag op ‘n tradisionele wyse.

Die Tankwa-Bok

Die onlangs ontdekte tankwabok is in die proses om geregistreer te word as ‘n landras bokras by die Suid-Afikaanse Departement Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF). Volgens Thinus Jonker van die Noord-Kaapse Departement van landbou, toon die Tankwa groot potensiaal as ‘n vleisbok. Hoewel hulle nie dieselfde karkaskenmerke as die drie Boer- vleisbokke vertoon nie, kan parasiet- en siektebestandheid, vrugbaarheid en uitstekende moederseienskappe versterk word met inteling.

Angorabok as Vleisbok

As die sybokhaarvesels van ouer Angorabokke te grof word, word die bokke uitgeskot. Byna 90% van hierdie bokke word na KwaZulu-Natal gestuur om verkoop te word op die tradisionele mark. Die bokke behaal ‘n beter prys (lewendige gewig) as wanneer hulle deur ‘n kommersiële abbattoir verkoop word. Die karkas-tot-vleis-ratio is egter baie laag – slegs 30-35% vergeleke met ongeveer 50% vir Boerbokke, maar die tekstuur van die vleis is baie fyner as die van Boerbokke.

In vergelyking met Boerbokke (22.8%) en inheemse bokke (24.3%), het die vleis van die Angora die hoogste proteïeninhoud (29.1%). Angravleis het ook die laagste hoeveelheid vet (4.4%) in vergelyking met 10.5% (Boerbokvleis) en 7.9% (inheemse bokvleis).

Translated by Elna Van Rhyn