Spinasie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Spinacia oleracea
Volksname: Spinasie, Engelse spinase, babaspinasie

Plantbeskrywing

’n Blaaragtige plant met effense glanse en bros donkergroen blare van 25 tot 30 cm lank en 10 tot 20 cm breed. Blare is eers relatief glad en rond, maar soos die plant volwasse raak word die blare langer en effens gekreukel.

Gebruike

Die blare word geëet, gekook of rou (bv. jong blare in slaaie). Spinasie word ook geblik en die sap word ook van die blare gemaak. Dit is ’n bron van vitamien A, B1, B2, niasien en kalsium.

Grondvereistes en -voorbereiding

Spinasie kan in meeste grondsoorte geplant word, maar dit vaar die beste in leemgrondsoorte wat goed gedreineer is en pH-vlakke van tussen 6 en 6.8 het. Voeg fosfaat en kompos by voor beplanting en bewerk die boonste laag grond.

Klimaat

Spinasie kan in ’n groot temperatuurreeks van 5 tot 25 °C floreer, maar dit vaar die beste teen 14 tot 18 °C. Die plant hanteer nie oormatige koue van minder as 5 °C of hitte bo 30 °C goed nie. Alhoewel die plant kort vlae ryp kan oorleef, is dit nie heeltemal bestand daarteen nie. Hoër temperature vertraag groei. Dit is in wese ’n plant vir koel klimaat.

Kultivars

Regiment, Bloomsdale, Tyee, Catalina, Indian Summer, Space and Red Cardinal.

Translated by Ananda Schoeman