Robbeneiland se Pad na Herstel

Die Eerste Stap na Vryheid

©Eric Miller
In 1986 is verskeie apartheidswette herroep, insluitend die Wet op Gemengde Huwelike en die veragtelike Paswet. Tot die verbasing en vreugde van die opponerende partye, die ANC en PAC, is die partye in 1990 ontban en Mandela vrygelaat. Die jare van 1990 tot die eerste demokratiese verkiesings van 1994 is histories. Daar was maande van moeilike onderhandelings en verregse pogings om die land te destabiliseer. Uiteindelik en teen almal se verwagting in was daar ’n vrywillige oorhandiging van mag. Dikwels die eerste “vreedsame rewolusie” in die wêreld genoem, was dit die begin van ’n nuwe era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

In 1988 is Mandela na ’n huis op die grond van die Victor Verster-gevangenis verskuif. Teen hierdie tyd het die winde van verandering oor die subkontinent gewaai en Mandela is weer sy vryheid aangebied. Hy het dit van die hand gewys en daarop aangedring dat sy ANC kollegas eers vrygelaat moet word, want hy was bang die regering weier om hulle ook te bevry. Gevolglik is die ander politieke leiers een vir een skielik vrygelaat met min ophef en geen waarskuwing nie. Laastens, op 2 Februarie 1990, het die wêreld toegekyk hoe Madiba en Winnie hand in hand deur die uitgang van die Victor Verster-gevangenis geloop het.

Ná hierdie belangrike gebeurtenis is die oorblywende politieke gevangenes op Robbeneiland in ’n toestand van verwarring en opwinding gelos. Gerugte het in die tronk rondgegaan, maar die regering het geweier om ’n voldoende verklaring oor die aangeleentheid uit te reik. Geleidelik is almal se vryheid toegestaan en hulle is onseremonieel sonder enige berading of ondersteuning vrygelaat.

Vrylating van Politieke Gevangenes

©Tracey Derrick
Die manier waarop hulle vrygelaat is, word steeds met bitterheid onthou. Hulle het geen vergoeding gekry vir hulle tyd in die tronk nie en het min vooruitsigte vir indiensneming gehad. ’n Aantal eks-politieke gevangenes het alkohol en dwelms begin misbruik.

Teen 1991 het al die politieke gevangenes Robbeneiland verlaat. Die fasiliteite het tot 1996 as gevangenis vir kriminele gevangenes gedien. Daar is uiteindelik besluit om die plek toe te maak en die oorblywende gevangenes na tronke op die vasteland te verskuif. Die lot van Robbeneiland was weereens onseker.

Die Belangrikheid van Robbeneiland

©Roger de la Harpe
Die belangrikheid van die eiland as ’n simbool van die stryd en as ’n ikoon van oorwinning oor onreg is erken. Die besluit is dus geneem om die hele eiland in ’n museum te verander wat mense sou inlig oor die euwels van rassisme en die mag van verdraagsaamheid. Die museum is amptelik op 1 Januarie 1997 geopen. In 1999 is hierdie inisiatief onderskryf deur die internasionale gemeenskap toe die eiland as ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is.

Vandag besoek duisende mense elke week die voormalige tronk om self die wonderbaarlike geskiedenis van Robbeneiland te ervaar. Dit is nie altyd ’n aangename pelgrimstog nie, maar dit is een wat ons almal moet onderneem sodat die pynlike lesse van die afgelope 500 jaar nie vergeet word nie. Deur die geskiedenis van Robbeneiland te onthou, kan ons dalk voorkom dat die foute van die verlede herhaal word.

Translated by Ananda Schoeman