Robbeneiland: Politieke Pion

Verskuiwing van Politieke Mag

©Tracey Derrick
In 1948 het die Nasionale Party die algemene verkiesing gewen en is Smuts uit die mag verwyder. Dit was die begin van 50 jaar van onderdrukking en haat – ’n era wat opgesom word deur die woord “apartheid”. Oor die volgende paar dekades het die regering geleidelik ’n reeks wette geïmplementeer wat ontwerp was om die vryheid van swart en bruin Suid-Afrikaners te beperk. Alhoewel die motivering vir hierdie wetgewing ongetwyfeld gebaseer was op die vooroordeel van hulle voorouers, moet daar nie net aanvaar word dat apartheid slegs oor ras gehandel het nie. Daar was ook ’n ander rede vir hierdie berekende beleid: die behoefte aan ’n bestendige aanbod van goedkoop swart arbeid vir die suiwer wit staat.

Dit is duidelik dat hierdie benadering van die regering in ’n land met ’n oorweldigende swart meerderheid weerstand en protes sou veroorsaak. Die owerhede het besef dat hulle ’n plek gaan nodig hê om al die moeilikheidmakers gevange te hou. Dus het die Minister van Justisie in 1959 aangekondig dat Robbeneiland weer ’n tronk gaan word. Die militêre installasies is na die vasteland verskuif en alle toegang tot die eiland is beperk. ’n Nuwe en onaangename hoofstuk in die eiland se geskiedenis het begin.

Die Apartheid Jare

©Eric Miller
In 1958 het ’n groot visioenêre man, dr. H.F. Verwoerd, as premier oorgeneem. Hy het met sy giftige woorde ’n prentjie van “apartheid” en afsonderlike ontwikkeling waar die swartmense verander sou word in die “houtkappers en waterdraers” geverf. In ruil vir hulle arbeid en onderdanigheid het hy belowe om na hulle om te sien soos ’n goeie Christen sou.

Verwoerd het geweet dat daar teenstand van die Afrikane sou wees en die besluit is geneem om Robbeneiland voor te berei as ’n tronk vir almal wat teen die regering gekant is. Die Hoogverraadverhoor, waarin 150 verweerders van alle rasse aangekla is van sameswering, was reeds aan die gang en vanaf 1961 is kriminele gevangenes na die eiland gestuur om dit te help voorberei vir die verwagte instroming van politieke gevangenes. Die verhoor het vier jaar later met geen veroordelings nie geëindig.

Teen hierdie tyd was die ANC ’n nasionaal ondersteunde organisasie en die beweging het reeds baie, grootliks vreedsame protesaksies teen die regering gelei. Die gebrek aan vordering het egter sommige gefrustreer en een so ’n man, genaamd Robert Sobukwe, het in 1959 van die ANC weggebreek om ’n meer militante groep, die Pan-Afrikanistiese Kongres (PAC) te begin.

Die Eerste Politieke Gevangenes op Robbeneiland

©Tracey Derrick
In 1960 was daar massa aksie teen die drakoniese Paswet wat die beweging van swart mense deur wit woongebiede beperk het. By een van hierdie optogte, buite die polisiekantoor in Sharpeville naby Vereeniging, het die polisie om hulleself te verdedig op die skare begin skiet. Daar is 69 mense dood, waarvan party in die rug geskiet is soos hulle weghardloop. Die gebeurtenis het die nasie en die internasionale gemeenskap geskok. Die Suid-Afrikaanse regering het vinnig gereageer en die ANC en PAC as onwettige en verbande organisasies verklaar.

Nuwe wette is afgekondig om dit makliker te maak om opposisie leiers in hegtenis te neem. Later het Verwoerd die Britse Statebond verlaat en Suid Afrika as ’n Republiek verklaar. Van hulle kant af het beide die PAC en die ANC besluit om die wapens in die stryd teen apartheid op te neem. Beide het militêre vleuels, onderskeidelik Poqo en Umkhonto we Sizwe, gestig.

In die naloop van Sharpeville was die eerste politieke gevangenes wat gearresteer en na Robbeneiland gestuur is hoofsaaklik PAC en Poqo-lede. Hulle het vanaf 1961 aangekom op ’n rowwe eiland wat maar onlangs deur die weermag verlaat is op geen manier gereed was om ’n maksimum-sekuriteit gevangenis te wees nie. Die eerste gevangenes is dus vinnig in die werk gesteek om klippe te kap en hulle eie tronkselle te bou.

Translated by Ananda Schoeman