Ouma Stories oor Huwelike Volgens die Xhosa Kultuur

Goldie Qayiya en Felicia Mfamana deel hul verskillende ervarings oor hul huwelike; Goldie het ‘n vooraf gereëlde huwelik gehad, terwyl Felicia deur haar aanstaande eggenoot ontvoer is, beide tradisionele gebruike volgens die Xhosa kultuur.

Goldie Qayiya

©Eric Miller
My aanstaande eggenoot, Otto, het in dieselfde dorpie grootgeword as ek, maar ons het mekaar nie as kinders geken nie. Ek het hom eers ontmoet toe ek een vakansie huis toe gekom het terwyl ek op onderwyskollege was. Ek was op pad terug van die winkels toe hy my vriendelik roep en sê, ‘Kom hier.’ Hy wou weet waar ek woon. Die volgende keer wat ek hom gesien het, was op ons verlowingspartytjie.

Otto het ‘n brief aan my geskryf waarin hy my gevra het om te trou. Dit was belangrik vir hom dat ek ook met hom wou trou. Sy brief het gesê dat hy sy pa sou vra om met myne te praat indien ek instem. Maar ek was op kollege toe die brief daar aangekom het en my ouers het dit oopgemaak. Hulle het nie my opinie gevra nie. Dit was my eerste jaar op kollege. Die volgende keer toe ek huis toe gegaan het vir ‘n vakansie, het my pa vir my gesê, ‘Goldie, jy gaan trou.’

Die Gereëlde Huwelik

Die huwelik het twee jaar later plaasgevind, gedurende die Desembervakansie. Otto het 10 koeie en ‘n perd as lobola betaal en binne daardie maand is ons getroud.

Ek was baie ongerus. Ek wou glad nie getrou het nie.

Ons is in die Anglikaanse kerk getroud en het daarna na Otto se huis gegaan waar almal juigend buite op ons gewag het. Ons het ‘n bietjie tyd spandeer om almal te groet en hande te skud, en het toe na binne gegaan om te gaan eet.

Na die feesmaal het ons almal na die gemeenskapsaal gegaan om te dans en teen middernag het ons die res van die feesmaal geëet wat die vroue na die saal toe gebring het.

Daarna het ons heelnag gedans op die jazzerige, vrolike kwela musiek van Spokes Mashiyane, die Afrika-penniefluit legende van ons tyd, en so die begin van ‘n leeftyd wat ons saam sou spandeer, gevier.

Felicia Mfamana

©Eric Miller
Daar is twee soorte huwelike in die Xhosa-kultuur – die regte soort en die ontvoeringsoort, en beide vind vandag nog plaas. As ‘n man sy vrou ontvoer is daar nie ‘n groot troue nie, en ook geen wit rok nie.

Daar is niks wat die vrou daaraan kan doen nie. Ek het so ‘n troue gehad. Ek lag vandag daaroor, maar destyds was dit glad nie snaaks nie.

My skoonsuster, wat by my familie gewoon het, en wat ek vertrou het, het dit alles gereël. Sy het my bedrieg in ‘n bus in saam met ‘n vreemdeling. Hy was goed gebou en het ‘n aangename gesig gehad. Daar was niks verkeerde te vind met hom nie. Tog was ek bang. ‘Wat gaan aan? Waarheen neem jy my?’ het ek gevra.

Sy aangename, koffiekleurige gesig het ernstig geword. ‘Ek neem jou huis toe om my vrou te wees,’ het hy gesê. ‘Ek wou dit al lankal gehad het en nou, uiteindelik, gebeur dit.’

‘Maar ek wil nie saam met jou gaan nie,’ het ek gesê. ‘Asseblief, stop die bus en laat my afklim.’ In my stygende paniek het ek begin huil. Ek kon nie verdra om my pa so agter te laat nie. Hy was ‘n man van die kerk.
‘Probeer verstaan,’ het my aanstaande gesê. ‘Ek wil regtig hê dat jy my vrou moet wees en ek wag nie langer nie. Onthou, in ons kultuur is ek geregtig om dit te doen.’

Felicia se Nuwe Familie

Die bus het ons geneem na sy familie se eiendom waar daar vier huise op die eiendom was. Een was die huis van sy suster Noyiswa, waar ek vir die eerste week moes bly. Daardie nag het ek gehuil en gehuil. Ek het met skok en ‘n gevoel van verlies besef dat dit die einde van my jongmeisielewe was.

Na die einde van die eerste week het hy twee mans na my pa en broers toe gestuur om hulle te vertel waar ek was. ‘Jy het my dogter sonder my toestemming gevat,’ het my pa baie kwaai gesê. ‘Jy sal ons ‘n ekstra koei moet gee. Tien koeie vir lobola, en nog een omdat jy nie toestemming gevra het nie.’ Die seremonie het plaasgevind in Milton se ouers se huis. Al sy familie was daar. My pa kon nie kom nie. Dit was te vêr.

‘n Ouderling van die gemeenskap het ons kom trou. ‘Jy is nou ‘n nuwe vrou en jou nuwe naam is Nthozamile,’ het hy vir my gesê. ‘Jy het ‘n nuwe familie, met ‘n nuwe pa en ma en nuwe susters, en jy moet dit aanvaar. Jy is nou nie meer ‘n meisiekind nie. Jy moet nou soos ‘n vrou optree.’ Aan die einde van die seremonie het hy gesê. ‘Julle is nou indoda nomfazi, man en vrou.’
‘n Skaap is geslag vir die feesvieringe, en die vroue van die familie het slaai, rys en stampmielies gemaak om daarmee saam te eet. Daarna was ons getroud. My lewe as ‘n getroude vrou het begin.

Translated by Elna Van Rhyn