Xhosa Kultuurgewoontes

Goldie Qayiya deel ‘n paar gedagtes oor grootword in ‘n tradisionele Xhosahuishouding.

Kindertakies

©Eric Miller

Toe ek tien geword het, was ek oud genoeg om my pa en ma te help. Ek het geweet hoe hard hulle gewerk het en was intens trots op hulle. Daarom het ek elke oggend my besem geneem en die werf met groot entoesiasme gevee, in ‘n poging om net so slim en goed soos hulle te wees.

Ek durf nie nog ‘n bietjie tussen die warm komberse lê nie, of my pa sou met sy stokkie kom seker maak ek staan op. Dit was buite die kwessie dat ek hom nie sou gehoorsaam nie, nie toe of ooit nie. Ons is goed opgevoed, al vyf van ons, om hard te werk, soos hy, sonder om moeg te word. So, van my tiende verjaardag af was vieruur die tyd wat ek opgestaan het.

Die Maagdelikheisdtoets

©Eric Miller

Toe dit tyd was vir my maagdelikheidstoets het my ma ‘n wit sakdoek vir die geleentheid gekoop. As die vroue gevind het ek is steeds ‘n maagd, sou een van hulle buitentoe gaan en die wit sakdoek vir die manne in die kraal waai. As ek nie ‘n maagd was nie, sou sy buitentoe gaan sonder die sakdoek.

Ek was nie bang vir die toets nie want ek het nog nooit eens ‘n kêrel gehad nie. Vir my het die vroue die wit sakdoek gewaai. Al die manne het ontspan en begin glimlag terwyl hulle hul pype en sigarette opgesteek het.

‘Dankie, dankie,’ het hulle die vroue bedank. Daardie middag het my pa ‘n skaap geslag ter ere van my en die aand het ons ‘n groot braaivleis gehou om dit te vier.

Die maagdelikheidstoets was nog ‘n kultuurgewoonte wat ons kultuur van respek bevestig het. Dit was moeilik vir ons jong meisies, maar ons het nie gekla nie omdat dit deel van ons lewe was en ek, veral, het nooit iets gedoen wat nie my ouers se goedkeuring weggedra het nie.

‘n Xhosatroue

©Eric Miller

Beide my ouers was gekwalifiseerde onderwysers en ek was baie lief vir skool. Ek wou ook eendag ‘n onderwyser wees en daarom het ek na drie jaar in die hoërskool onderwyskollege toe gegaan. Ek het die kursus geslaag, maar kon nooit werk as onderwyser nie want gedurende die laaste jaar van my kursus moes ek trou.

My pa het my man, Otto Qayiya, gekies, en ons huwelikseremonie het twee dae lank geduur, die 5de en die 6de Januarie 1965. Ons het baie uitnodigings uitgeskryf op klein stukkies papier en dit vir die kleiner kinders gegee om na die prinsipaal van die skool te neem. Tydens pouse is die klein uitnodigingkies aan elke kind gegee om huis toe te neem.

Op daardie manier het die hele dorpie daarvan geweet. Dit was hoe ons die nuus van ‘n troue versprei het. Ons is in die Anglikaanse kerk getroud, waarna ons na Otto se huis gegaan het waar almal buite vir ons gewag en ons toegejuig het, die vroue met hul wit handskoene en deftige pienk en blou uitrustings van die 1960’s en die mans in hul swart pakke en wit hemde.

Ons het ‘n bietjie tyd spandeer om almal te groet en hul hande te skud, en toe het ons ingegaan om te gaan eet. Vier skape en ‘n koei is geslag. Dit was ‘n reuse fees met vleis, stampmielies en rys vir die oumense.

Tradisionele Gebruike

©Eric Miller

Die meeste mense in die platteland het nog tradisionele klere gedra toe ek ‘n kind was. Die vroue het slegs rompe en krale gedra en die mans het komberse oor hul skouers gedra wat om hul middels vasgemaak was.

Daardie mense het nie kerk toe gegaan nie en het nie hul kinders skool toe gestuur nie, want hulle moes na die beeste, skape en bokke kyk en op die groentelande werk. Dinge was baie tradisioneel.

Translated by Elna Van Rhyn