Hoe om Jou Eie Hop te Kweek

© Chris Daly

Hop – 'n Hoofbestanddeel in Bier

Hop is die gedroogde vroulike blomme van die Humulus lupulus klimplant, van dieselfde plantfamilie as die dagga- of hennepplant. Dit is die mees algemeen gebruikte hoofbestanddeel in bier en verskaf ‘n aangename, bitter geur en dien terselfdertyd ook as preserveermiddel. Dis oor die algemeen maklik om hop te kweek en ‘n rank kan tot 7.6 m in ‘n seisoen groei terwyl dit tot 900 g gedroogde blomme produseer.

Voorbereidings om Jou Hop te Kweek

©Chris Daly
Die eerste stap in die kweek van jou eie hop is om te besluit op die variëteit wat jy gaan plant, want daar is meer as 80 soorte waaruit jy kan kies. Hopvariëteite word in drie kategorieë verdeel: bitterheid, aroma en dubbeldoel, afhangende van die doel waarvoor hulle geplant word. Van die gewilde hopsoorte in Suid-Afrika sluit in die African Queen, Southern Aroma, Southern Passion en Southern Star.
Sodra jy jou keuse gemaak het, sal jy risome in die hande moet kry. Hoprisome is deel van die wortelstok van die plant. Hulle lyk soos wingerdstokke en bevat botsels waaruit nuwe plante kan groei. Risome moet effens klam gemaak wees en in plastieksakke geplaas word voordat hulle verkoel word. Hulle kan vir maande op hierdie wyse geberg word.

Die Beste Plek om Hop te Plant

Hop het baie vertikale ruimte nodig omdat dit baie hoog groei. Dit behoort nie binnenshuis gekweek te word nie. Die ideale plek sal minstens drie tot ses meter vertikale opleiruimte moet hê. Dis die beste om ‘n prieel te gebruik waarteen jou hop kan rank – jy mag nooit jou hop teen kragpale laat oprank nie. Daar moet ook genoeg grondspasie wees sodat jy jou hoprisome een meter uitmekaar kan plant, met ten minste 1.5 m spasiëring tussen verskillende hopvariëteite.
Die area wat jy kies om jou hop te plant behoort elke dag ‘n minimum van ses tot agt ure direkte sonlig te ontvang. Dit sal goed wees as die area minimaal wind kry en goed gedreineer is. Indien dreinering ‘n probleem is, kan jy ‘n hopheuweltjie uit grond en ‘n sand/gruismengsel bou om ‘n losser plantbedding te skep.

Die Beste Grond vir Hop

Hop floreer nie as daar te veel vog aanwesig is nie. Gekompakteerde grond sal staande water veroorsaak wat die wortels sal laat vrot en jou plant laat doodgaan. Die beste grond vir hop is los en poreus. Maak seker jy verwyder alle groot klonte, klippe en onkruid uit die grond voordat jy plant. Maak die grond tot op 30 cm diep los. Jy kan ook jou grond bemes met beenmeel of bloedmeel. Oor die algemeen sal enige grond waarin vrugte en groente goed groei, ook goed vir hop wees.
Vir presisiekwekers sal die ideale grondspesifikasies die volgende wees:
pH van 5.5 – 8.0
Algemene voedingsregiment waar die Kalium (K) en fosfor (P) dubbel die stikstofinhoud is.
Boron (B) as ‘n spoormineraal is ook voordelig vir die kweek van hop.

Die Beste Tyd om Hop te Plant

©Chris Daly
Dis die beste om hop in die winter te plant met baie tyd voordat jy in die somer hoef te oes. Om jou risome te vroeg te plant is beter as om hulle te laat te plant. Risome is bestand teen temperature so laag as-6°C. Ideale planttye is vanaf Mei tot Julie.

Hoe om Hop/Risome te plant

Maak ‘n gat in die grond wat ongeveer so diep is soos die lengte van die risoom. Plaas die risoom horisontaal in die gat. Bekyk die risoom mooi en maak seker dat enige wortels teenwoordig grondwaarts wys, terwyl enige wit botsels na bo wys. Gebruik jou hande om die grond versigtig rondom die plant vas te druk. Jy kan nou die hop bedek met ‘n laag strooi of ander deklaag om die groei van onkruid te ontmoedig. Hou die grond dop, en hou dit klam totdat die plant begin opkom.

Translated by Elna Van Rhyn