Die Vroeë Dae van Robbeneiland

Die Europeërs en Robbeneiland

©Roger de la Harpe
Robbeneiland is vir die eerste keer deur die Europeërs gebruik as ’n nuttige stopplek vir honger matrose op pad na die Ooste. Daar is min bewyse dat die Kaap se inwoners ooit oor die rowwe see na die eiland geroei het. Die Europeërs sou gereeld op die eiland stop en ’n boot vol robbe en pikkewyne vang. Rekords beweer dat die matrose in ’n enkele dag tot 1100 pikkewyne sou gevang het. Inderdaad kom die eiland se huidige naam van die Nederlandse woord 'robben' wat 'robbe' beteken.

Robbeneiland se eerste amptelike rol was as ’n stoor vir Europese seevaarders. Vanaf die 1600’s het die Europeërs ook die eiland as ’n amptelike poskantoor gebruik. Briewe en verslae vir geallieerde skepe wat daar aangekom het, is onder spesiale gemerkte 'poskantoor klippe' gelos. Daar is ook verskeie rekords van skipbreukelinge wagtende op redding wat vir maande lank op die eiland gebly het.

Skeepswrakke by Robbeneiland

©Roger de la Harpe
Die see rondom Robbeneiland is geweldig rof en om die saak te vererger word die eiland omring deur skerp rotse wat ver in die donkergroen water strek. Kombineer dit met die hewige winde en digte mis wat vanaf die Atlantiese Oseaan inrol en jy het ’n resep vir skeepswrakke. Alhoewel seinvure op die punt van Vuurheuwel (tans Minto-heuwel) gebrand het, het daar meer as 30 skepe skipbreuk gely.

Ongeveer twee derdes hiervan het plaasgevind voordat die ligtoring in 1863 gebou is, maar skepe word steeds deur die eiland onverhoeds gevang. Die noordelike kuslyn van Robbeneiland spog met die oorblyfsels van ten minste 3 onlangse skeepswrakke wat lê en roes op die skerp rotse.

Brittanje in die Kaap

©Roger de la Harpe
In 1602 is die Verenigde Oos-Indiese Kompanje ofte wel in Nederlands, die 'Vereenigde Oostindische Compagnie' (VOC) in Nederland gestig. Hierdie beslote maatskappy (die eerste beperkte aandelemaatskappy ter wêreld) het dit hulle kapitalistiese plig gemaak om beheer oor die roete na die Ooste te verseker. Om hierdie onderneming te ondersteun, het die VOC begin ondersoek instel na die moontlikheid om ’n permanente Europese teenwoordigheid in die strategies belangrike Kaap die Goeie Hoop te vestig. Dit is halfpad tussen die Ou en Nuwe Wêreld geleë en dit is die posisie wat dit vandag nog behou, beide geografies en metafories. Hulle mededingers het egter tegnies gesproke eerste by die Kaap aangekom.

In 1614 het die Britse Oos-Indiese Kompanjie beplan om 100 gevangenes in die Kaap te vestig. Uiteindelik is ’n verskeidenheid van 18 of 19 mans uitgekies en na die Kaap gestuur in plaas van na die galg. Hulle was die eerste groep gevangenes wat “getransporteer” moes word, ’n praktyk wat later algemeen geword het en uiteindelik sou kulmineer in die Australiese nasie.

Die eerste Britse afvaardiging na die Khoikhoi inwoner van die Kaap Xhore, het op ’n skermutseling uitgeloop waarin verskeie mans dood of beseer is. Dit is deur Xhore as ’n “misverstand” beskryf. Hy wou weet hoekom die Britse mense agtergelaat is om in die Khoikhoi se gebied te bly en het net aangebied om die Britse setlaars te help as hulle hom ondersteun in ’n konflik met die binnelandse stamme. ’n Rukkie later was daar ’n verdere ernstige botsing tussen die eks-gevangene setlaars en Xhore se mense en dit het die wit mans gedwing om in hulle klein bootjie te spring en na Robbeneiland te vlug.

Permanente Verversingspos

©Roger de la Harpe
Toe ’n reddingspoging in die Kaap verkeerd geloop het, het drie van die oorlewendes besluit om op Robbeneiland te bly eerder as om terug te keer na Engeland. Hulle is moontlik later deur ’n Nederlandse of Portugese skip gered. Die ander drie het verkies om ’n kans te vat huis toe en het aan boord van die New Year’s Gift gegaan. Die tyd op die eiland het egter niks gedoen om die setlaars te hervorm nie en die optrede van die geredde mans aan boord van die skip is as so “onkuis” verklaar dat hulle dikwels as straf in die blokke gesit is. Binne ’n paar ure na hulle landing in Engeland het die ongerehabiliteerde misdadigers ’n beursie gesteel en is tereggestel op grond van hulle vorige misdade, waarvoor hulle verban was... maar nooit vergewe nie.

Ná die rampspoedige Engelse poging om in die Kaap gevestig te word, was die Europeërs baie minder ambisieus. In 1652 is Jan Van Riebeeck, ’n voormalige skeepsdokter, deur die Oos-Indiese Kompanjie gestuur om ’n permanente verversingspos aan die Kaap te vestig. Die doel van hierdie onderneming was om die skepe wat by die Kaap aangedoen het van vars vrugte, groente, water en vleis te voorsien; natuurlik met ’n gesonde wins vir die Kompanjie. Om dit te doen, sou die nuwe setlaars egter ’n groentetuin moes begin en met die plaaslike Khoikhoi vir beeste en skape onderhandel.

Robbeneiland Onder Nederlandse Beheer

©Roger de la Harpe
Die Hollanders was ernstig oor hulle missie en het maande bestee om alles reg te kry. Met verloop van tyd het drie skepe met 150 mans en ’n paar vrouens na hulle nuwe lewens in die Kaap gevaar. Dit was die begin van ’n groot Suid-Afrikaanse drama wat oor die volgende drie en ’n halwe eeu sou strek. Robbeneiland is oor die jare vir ’n verskeidenheid doelwitte gebruik en dit was ’n nuttige plek vir die Hollandse setlaars. Hulle het periodiek besoeke afgelê om robbe en pikkewyne te vang en die uitwissing van die natuurlewe (wat eens as wonderbaarlik beskryf is) was ongelooflik. Dit het tot een van die eerste natuurbewaring wette in Suid Afrika gelei.

Hierdie wet het verklaar dat die vang van die eiland se robbe en pikkewyne net met toestemming mag geskied. Om hierdie bevel af te dwing, is ’n bewaarder na die eiland gestuur. Herders is ook daar geplaas om die klein kudde skape en bokke teen honger matrose, wat nie so baie wou betaal vir die voorrade by die verversingspos in Tafelbaai nie, te beskerm.

Tien Jaar Later

©Johan Boshoff
In 1654, toe die kleinvee getalle toegeneem het, is verskeie mans na die eiland gestuur om ’n skuiling te bou en ’n groentetuin te plant. Groot hoeveelhede seeskulpe is ook op die eiland ontdek wat gebrand kan word om kalk te vervaardig en goeie kalksteen en Malmesbury-leiklip is ook daar geïdentifiseer.

Die eerste amptelike groep gevangenes is in 1657 na die eiland gestuur om hierdie klip, wat gebruik is om die huise en paaie van Kaapstad te bou, te verwerk.Hierdie groep slawe en ballinge was egter nie ’n bevredigende werksmag nie en die Kompanjie het gesukkel om bekwame toesighouers te kry wat op die afgesonderde eiland wou bly.

Siekte en honger het hierdie vroeë inwoners geknel, maar die lewende hawe het floreer en teen 1666 het die eiland 350 skape, 10 beeste, 40 bokke, 30 varke en 25 mense (waarvan 14 gevangenes was) gehad. Tien jaar later was daar meer as 300 skape en 1000 beeste.

Translated by Ananda Schoeman