Die Nuwe Setlaars in Vredefort

© Jacques Marais

Die Eerste om aan te kom

Die grootste deel van die 1700’s was redelik vreedsaam in Suid-Afrika se hoëveld. In die 1800’s het daar egter twee nuwe groepe setlaars aangekom en alles verander. Die eerste wat op die toneel verskyn het was ’n Afrika-stam genaamd die Matabele (later Ndebele). Hulle was eens op ’n tyd deel van die Zoeloe-nasie onder die beheer van die magtige Koning Shaka. In 1824 het die Matabele-hoof, Mzilikazi, egter met Shaka getwis en met duisende volgelinge oor die Drakensberge gevlug.
Die Matabele was vreesloos met gedugte krygers wat onmin in die vroeër, rustige binneland gesaai het. Alhoewel dit naby Pretoria geleë was, het die Matabele-krygers orals in die platteland geveg en wydverspreidheid moeilikheid veroorsaak. Hierdie onstuimige tydperk staan bekend as die Difaqane wat verband hou met die Mfecane, maar nie dieselfde is as die laasgenoemde wat in die kusstreke plaasgevind het nie.

Die Tweede Groep

Die tweede groep indringers was letterlik anders van kleur. Dit was die wit setlaars wat sedert die draai van die eeu vanaf die Kaap hier aangekom het. Sommige het op soek na avontuur gekom, sommige was sendelinge, sommige was jagters op soek na wild. Aanvanklik is hierdie vreemde, bleek mense deur die plaaslike stamme geduld, daar was ruilhandel en hulle het selfs die setlaars op hulle jagtogte in die wilde binneland vergesel.
In 1834 het die Groot Trek egter begin en die druppel het ’n bestendige stroom wit setlaars geword. Die trek was ’n gevolg van die Boere se ontevredenheid met die Britse heerskappy (en die afskaffing van slawerny) aan die Kaap en die Boere het besluit om die kolonie te verlaat en ’n nuwe land te vestig waar hulle kon heers. Verskeie groepe het daarna in die binneland aangekom op soek na hulle Eden.
Een van hierdie groepe, onder leiding van Andries Hendrik Potgieter, het in 1836 in die Vredefort-omgewing aangekom en het groot plase begin vestig, tot die ontsteltenis van die plaaslike bevolking. Daar was egter ’n kompromie, want die boere se gewere was ’n nuttige afskrikmiddel teen die Matabele. Nietemin was dit ’n gespanne situasie.

Die Aanval

Dinge het tot ’n punt gekom toe verskeie boerefamilies deur ’n groep Matabele-krygers vermoor en drie kinders ontvoer is. Die aanval het plaasgevind op die noordoewer van die Vaalrivier, baie naby aan die hedendaagse dorp Parys. Andries Hendrik Potgieter was woedend en het ’n aantal teenaanvalle van stapel gestuur om die Matabele vir die bloedbad te straf. As gevolg van hierdie en ander aanvalle het Mzilikazi uiteindelik uit die omgewing padgegee en noord van die Limpopo ’n nuwe hoofstad naby Bulawayo gevestig.

Dit is Potch!

In 1837 het Potgieter na ’n oorwinning teen die Matabele die vrugbare oewers van die Mooirivier opgelet en besluit dat dit die ideale plek vir ’n dorp sou wees. In 1838 is die strate behoorlik uitgelê en verskeie huise gebou. Ongelukkig het die nat seisoen van 1840 aangetoon dat die nedersetting op ’n moeras gevestig is. ’n Nuwe dorp is vinnig op ’n beter plek gevestig, sowat 11 km stroomaf van die Oudorp. Na ’n aantal ander name is die dorp uiteindelik Potchefstroom genoem, moontlik ’n kombinasie van Potgieter en die woord “stroom”.
Potch (soos algemeen bekend) was die eerste Boere-munisipaliteit noord van die Vaalrivier. Na die ondertekening van die Sandrivier-konvensie in 1852, het dit ook die eerste hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) oftewel die Suid-Afrikaanse Republiek van die ou Transvaal geword. As sodanig was dit ’n baie belangrike plek. Die eerste president van die ZAR het sy amp in Potchefstroom aangeneem. Die ZAR se grondwet is hier opgestel en die Vierkleur (amptelike vlag van die ZAR) is vir die eerste keer hier gehys.
Die Transvaal se eerste koerant is in hier gedruk en die eerste onderwyser noord van die Vaalrivier het ook in Potchefstroom gebly. Ongelukkig het die hoofstad van die ZAR in 1860 na Pretoria verskuif, maar die dorp het ontwikkel tot ’n belangrike landbou, myn en opvoedkundige sentrum.

Translated by Ananda Schoeman