Desmond Tutu: Lewe in ’n Oogopslag

Gebore in Klerksdorp

©Eric Miller

Desmond Mpilo Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp in die Noordwes-provinsie van Suid-Afrika gebore. Sy pa Zachariah was ’n onderwyser en sy ma Aletta ’n huishulp. Hy was een van vier kinders en die familie het nie baie geld gehad nie. Tutu se pa is na ’n skool in Ventersdorp toe oorgeplaas toe hy agt jaar oud was. Hier het die familie aan die Afrika Metodiste Episkopale Kerk behoort.

Van hier is die familie na Roodepoort in Gauteng en het uiteindelik in Munsieville, ’n swart gemeenskap in Krugersdorp, gaan bly. Terwyl hulle in Munsieville gebly het, het Desmond ekstra geld verdien deur wasgoed wat sy ma gewas het op en af te gaan laai.

Hy het ook lemoene en grondboontjies vir ’n klein profyt verkoop en selfs as ’n joggie by die Killarney Gholfbaan gewerk. Hy het by die Padvinders (Scouts) aangesluit waar hy ’n Tenderfoot Tweede Klas en Vaardigheid in Kook kentekens ontvang het.

Hoërskool in Sophiatown

Desmond is in 1945 na die Western Hoërskool naby Sophiatown. Hier het hy in akademie uitgeblink en sy lewenslange liefde vir rugby ontwikkel nadat hy by die skolespan aangesluit het. Twee jaar later het hy tuberkulose (TB) gekry en is vir 18 maande lank gehospitaliseer.

Gedurende hierdie tyd het hy met Vader Trevor Huddleston, wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het, bevriend geraak. Hy het ook onder hom by die kerk in Munsieville gewerk. Huddleston was ’n Engelse Anglikaanse biskop wat in Sophiatown gewerk het.

Desmond was baie beïndruk met die respek wat die priester aan sy ma, wat ’n baie laer sosiale status gehad het, bewys het. Hy het nooit vergeet hoe Huddleston almal met waardigheid behandel het nie. Dit het hom later in die lewe geïnspireer toe hy met die stryd teen apartheid gekonfronteer is.

As gevolg van sy siekte het Desmond agtergeraak op skool, maar hy is tog toegelaat om in 1950 matriek te skryf. Hy het daarvan gedroom om ’n dokter te word en het tot laat snags by kerslig vir sy matriekeksamen studeer. Hy het geslaag en toelating tot die Witwatersrand Mediese Skool verkry. Ongelukkig kon hy nie befondsing bekom nie en het ’n Onderwysdiploma by die Bantoe Normaalkollege verwerf.

Werk as ’n Onderwyser

Terwyl Tutu as ’n onderwyser gewerk het, het hy ’n medeonderwyser genaamd Nomalizo Leah Shenxane ontmoet. Die twee is in 1955 getroud en het vier kinders saam. Tutu het uit onderwys bedank toe die Wet op Bantoe-onderwys ingestel is. Hy het geweier om die onreg van gedwonge minderwaardige onderwys, wat op ras gebaseer is, te onderskryf.

Hy het sy teologiese studie by St Peter’s Theology College in Johannesburg voortgesit. Dit was alles die moeite werd toe Tutu in 1960 as Anglikaanse priester georden is. Vanaf 1962 tot 1966 het hy sy honneurs en meestersgraad in teologie by King’s College in Londen verwerf. Terwyl Tutu in die buiteland was, is hy deur die vryheid van spraak sowel as die maklike toegang tot kennis en opvoeding geïnspireer. Hy wou hierdie soort vryheid vir sy eie mense in Suid-Afrika hê.

’n Gerespekteerde Figuur

©Roger de la Harpe

Na Desmond Tutu in 1967 na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy by die personeel van die Federale Teologiese Seminarie in Alice aangesluit en die kapelaan by die Universiteit van Fort Hare geword. In 1975 word Tutu die Dekaan van St Mary’s Cathedral in Johannesburg en kort daarna biskop van Lesotho.

In 1975 was dit ’n onstuimige tyd in Suid-Afrika, met groot politieke omwentelinge en teenstand teen apartheid. Dit was gedurende hierdie tyd dat Desmond Tutu as hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) aangestel is. Die SARK het al die groot Christelike kerke in Suid-Afrika, behalwe die NG Kerk en die Katolieke Kerk, verteenwoordig.

Die SARK het ’n leidende instelling vir die geestelike en politieke lewe van die Christene in Suid-Afrika geword en hulle ’n plek gegee om hulle aspirasies te verwoord. Gedurende 1978 en 1985 was Tutu op die nasionale en internasionale voorgrond in die geveg teen apartheid. In 1984 het Desmond Tutu, vir sy rol in die afskaffing van apartheid, die Nobelprys vir Vrede ontvang.

Desmond Tutu is in 1985 tot biskop van Johannesburg verkies en gedurende hierdie tyd het hy aanhou streef na verandering en die eenheid tussen Swart en Wit Anglikane bevorder. In 1986 is hy as die aartsbiskop van Kaapstad verkies en in 1987 die president van die All African Conference of Churches.

Post-Apartheid

©Eric Miller

Na apartheid in 1994 uiteindelik afgeskaf is, is Tutu deur Nelson Mandela as die voorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie, wat hoop en vrede in die nasie moes herstel, aangestel. Tutu is oor die jare beide plaaslik en internasionaal vereer vir sy bydrae om Suid-Afrika ’n demokratiese land te maak.

Ter erkenning van sy liefde vir literatuur en opvoeding het Tutu verskeie eregrade ontvang en baie skole en beurse is na hom vernoem. In 1987 het hy die Pacem in Terris-toekenning ontvang. Hierdie toekenning is vernoem na ’n brief van pous Johannes XXIII wat mense oproep om vrede tussen nasies te verseker.

In 2008 het goewerneur Rod Blagojevich van Illinois 13 Mei as “Desmond Tutu Day” aangekondig en in 2017 het koningin Elizabeth II van Engeland hom as Bailiff Grand Cross of the Venerable Order of St John aangestel.

Translated by Ananda Schoeman

Desmond Tutu

Desmond Tutu is een van Suid-Afrika se mees geliefde ikone en as ’n 1984 Nobelpryswenner en menseregte-aktivis bekend....more