Desmond Tutu se Bydrae tot die Afskaffing van Apartheid

Geëer vir sy Bydrae

©Eric Miller
Tutu het in 1984 die Nobelprys vir Vrede gewen en was die tweede Suid-Afrikaner wat die toekenning ontvang het. Hy is vereer vir sy pogings om die onderdrukkende heerskappy in Suid-Afrika af te breek. Hy het ’n openbare verklaring gemaak en sy prys aan die “klein mensies” in Suid-Afrika opgedra. Sy prysgeld het hy met sy familie, personeel van die Suid-Afrikaanse Kerkraad en ’n fonds vir Suid-Afrikaners in ballingskap gedeel. Die Suid-Afrikaanse publiek het gemengde reaksies gehad op hierdie toekenning, party het fees gevier en ander het kritiek gelewer. Die regering self het stil gebly oor die geleentheid. Hy is later tot biskop van Johannesburg verkies en het as beskermheer van die Verenigde Demokratiese Front bedank.

Hy het sy werk voortgesit en dit wat in Suid-Afrika gebeur het oorvertel en ook moontlike oplossings voorgestel. In die VSA het hy en dr. Allan Boesak met Senator Edward Kennedy ontmoet. Hy het hom genooi om Suid-Afrika te besoek en die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies sowel as die Congressional Black Caucus, Huis van Verteenwoordigers en die senaat aan te spreek. Hy het steeds wêreldleiers aangemoedig om druk op die Suid-Afrikaanse regering met ekonomiese sanksies te plaas.

Teen Geweld Gekant

Tutu het in 1984 ten gunste van ’n gewapende anti-apartheidsgroep, Umkhonto we Sizwe, getuig. Hy het volgehou dat hy teen geweld gekant is, maar dat hy kan verstaan as swart Afrikane wat onderdruk word tot geweld oorgaan. Hy het die blanke regering van skynheiligheid beskuldig omdat hulle gewapende bevrydingsgroepe in Europa prys terwyl hulle dieselfde tipe groepe in Suid-Afrika veroordeel.

In die land het geweld bly toeneem en Tutu moes by baie begrafnisse ’n woord spreek. Tydens sy preke het hy voortgegaan om die boodskap van geweldloosheid te verkondig. Hy is deur sommige mense daaroor gekritiseer. Hulle het beweer dat sy beskeidenheid ’n hindernis vir bevryding was. Die ANC het ’n beroep op die burgers gedoen om die land onregeerbaar te maak. Buitelandse beleggers het hulle beleggings begin onttrek. PW Botha het in 1985 ’n noodtoestand in Suid-Afrika verklaar.

Tydens die chaos het Tutu steeds hard bly werk. Hy het betogings gelei, ’n staking teen apartheid voorgestel en die Nasionale Inisiatief vir Versoening ondersteun in die oproep om ’n landwye staking vir ’n dag van gebed. Hy het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York aangespreek en met die Britse Premier Margaret Thatcher vergader om verdere ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika in te stel.

Bevordering van Onderwys en Sanksies

©Eric Miller
In 1985 is die Bishop Tutu Scholarship Fund gestig. Die doel van die fonds was om beurse aan Suid-Afrikaners in ballingskap te verskaf. Tutu het vas agter die belangrikheid van 'n opvoeding gestaan. Tydens ’n konferensie wat deur die Soweto-ouerkomitee georganiseer is, het hy gewaarsku oor die gevare van ’n onopgevoede geslag wat nie die nodige vaardighede het om belangrike posisies in post-apartheid Suid-Afrika te beklee nie.

Tutu het weer in 1986 die VSA besoek om vir sanksies te vra. Hy het ook Japan, Sjina en Jamaika om dieselfde rede besoek. Later daardie jaar is hy tot aartsbiskop van Kaapstad verkies voordat hy die president van die All Africa Conference of Churches geword het.

Bemiddel Konflik

Tutu het saam met ander kerkleiers as ’n bemiddelaar van die konflik tussen betogers en die polisie opgetree. Hulle het in 1986 die spanning in Alexandra Township en tydens die begrafnis van Ashley Kriel in 1987 ontlont. Na die regering in 1988 sewentien organisasies verban het, het hulle ’n protesoptog, wat ook verbied is, georganiseer. In reaksie daarop het hulle die Komitee vir die Verdediging van Demokrasie gevorm en toe hulle byeenkomste verbied is het hulle dit vervang met ’n diens by die St George-katedraal.

Tutu het in 1988 die saak van die Sharpeville-ses opgeneem. Die groep is ter dood veroordeel en Tutu, wat die doodstraf teenstaan, het PW Botha versoek om hulle lewens te spaar. Hy het Botha besoek en na ’n stryd was hy suksesvol in sy pleidooi. Die Sharpeville-ses se vonnisse is teruggetrek. In reaksie op Tutu se teenkanting het die regering ’n veldtog teen hom begin en anti-Tutu pamflette versprei, betogers betaal en selfs sy vrou geteister.

Translated by Ananda Schoeman