Deklaag

© Dr Pia Addison Wineland 2016
A vineyard with mulch on the berm.

Deklaag bestaan uit enige dooie plantmateriaal soos wingerdlote, rooibostee, strooi, selfs druiwedoppe wat op die grondoppervlakte of bankie geplaas word. Hierdie proses word gebruik met die doel om onkruidgroei te beheer en waterverlies deur verdamping te beperk.

Verder verlaag dit die grondtemperatuur en beperk erosie. Nuutontwerpte bossieslaners sny dekgewasse in die ry en strooi die fyngekapte materiaal op die bankie. Die gewildste deklaag wat gebruik word is strooi or hooi.

Weens die koste-faktore word dit dikwels net op die bankie of op swak kolle in die wingerd gestrooi. In die Swartland waar wingerd dikwels met saaiboerdery gekombineer word en strooi volop beskikbaar is, word dit soms ook in die wingerdry gebruik.

Daar word wegbeweeg van houtsaagsels aangesien die die grond-pH kan verlaag. Deklaag kan later in die grond ingewerk word om die organiese inhoud te verhoog. Dit verhoog ook die mikrobiologiese inhoud van die grond deurdat dit stadig verrot en die hoeveelheid saprofitiese fungi in die grond vermeerder.

Dit beïnvloed ook insek en geleedpotige populasies en studies het bevind dat ‘n kleiner hoeveelheid peste in deklaag-wingerd teenwoordig is.

Translated by Marinda Louw