Brown Headed Parrot
Bruinkoppapegaai

© Nigel J Dennis
Brown Headed Parrot.

Naam

Bruinkoppapegaai (Poicephalus cryptoxanthus)

Voorkoms

Die bruinkoppapegaai is ’n groen voël met ’n bruingrys kop. Dit het geel vere onder die voorvlerke, maar die kleur kan net in die vlug gesien word. Die iris is grysgeel. Die bruinkoppapegaai het basies ’n wit bek met swart op die punt van die bo-mandibel en die hoeveelheid swart verskil van papegaai tot papegaai. Sommige bruinkoppapegaaie het geel oë, maar dit is ’n donker geelgrys.
Party het ligte grys oë, selfs as volwasse voëls. Alle onvolwasse bruinkoppapegaaie het donkergrys, amper swart, oë wat ligter word en op een jaar oud die onderskeidelike volwasse kleure is. Bruinkoppapegaaie het ’n bruinerige grys skakering vere wat in die groen van die nek insmelt. Die bruinkoppapegaai se wetenskaplike naam, cryptoxanthus, beteken letterlik versteekte geel en dit verwys na die geel kleur van die ondervlerkdekvere. Dit is ’n klein tipe papegaai en slegs 22 - 25 cm lank met die stert ingesluit.

Dieet

Die bruinkoppapegaai eet ’n verskeidenheid sade, neute, bessies, blomme, vrugte en nektar. Dit word as ’n pes in sommige landelike gebiede beskou omdat dit koring- en mielielande kan stroop. Die bruinkoppapegaai kom dikwels in groepe van tot 50 bymekaar as daar ’n goeie bron van kos is.

Voortplanting

Die bruinkoppapegaai is volwasse vanaf omtrent 2 jaar oud, maar broei nie voor hulle 3 of 4 jaar oud is nie. Die bruinkoppapegaai soos die meeste papegaaie broei gewoonlik in die wintermaande, maar daar is van hulle wat die heel jaar broei. Die meeste wyfies sal 2 of 3 keer per jaar omtrent 2 tot 4 eiers lê. Inkubasieperiode is gewoonlik 28 dae. Die meeste jong bruinkoppapegaaie verlaat die nes op omtrent 8 - 10 weke oud.

Sosiale gedrag

Die bruinkoppapegaai kom gewoonlik in pare en klein groepe voor en verkies groot hoë bome waar hulle in die top van die bome sal bly. Die bruinkoppapegaai is sku en goed gekamoefleer en word slegs gesien as hulle van boom tot boom vlieg. Vogens die ‘Lexicon of parrots’ vorm die bruinkoppapegaai somtyds saam met die woudpapegaai ’n groep.

Verspreiding

Die bruinkoppapegaai kom van die oostelike deel van Suid Afrika. Ook in suid oostelike Afrika, Kenia, noordelike KwaZulu-Natal, Mosambiek, Tanzanië, Zimbabwe, Mali en die Zanzibar en Pemba eilande.