Familie vorm die basis van Zulu tradisionele lewe, wat gesentreer is op die Umuzi (uitgebreide huishouding). Tot onlangs toe het die Umuzi bestaan uit die hoofman (umnumzane), met sy vrouens en kinders, sy jonger broers met hul families en in baie gevalle ook getroude seuns.
Met verstedeliking en die opbreek van sosiale strukture van die verlede, het die Umuzi kleiner en kleiner geword, dikwels met slegs een man en sy vrou (of vrouens) en kinders. Tradisioneel was die uitgebreide opstal 'n self-versorgende ekonomiese eenheid, waarin 'n volledige lewe gelei kon word.
Elke Umuzi het sy eie beeste en melk wat hy benodig en sy eie velde waarop mielies en groente gekweek word om die behoeftes van die inwoners van die uitgebreide opstal te voorsien. Die argitektuur en uitleg van die Umuzi was deurgaans dieselfde in die hele Zulu samelewing en weerspieël die status van die verskillende vroue. Die posisies van die vroue van 'n gewone man is gereguleer volgens die volgorde waarin hulle getrou het, met die eerste vrou wat die hoofvrou (inkosikazi) was. Met die koning en belangrike kapteins was die hoofvrou, wat selde die eerste vrou was, in oorleg met die koning en sy adviseurs gekies nadat hy volwassenheid bereik het en in aanmerking moes kom om die isicoco (hoof-ring op sy kop) te dra.
Die Umuzi was min of meer rond in vorm en is gebou op skuins grond waar moontlik, wat na die ooste gewys het, met die helling wat wegval in die rigting van die hoofingang, sodat die hoof woning op die hoogste grond sal wees en uitkyk op die res van die Umuzi. In die middel was die beeskraal (isibaya) waar die beeste in die nag ingejaag is en die graan in ondergrondse putte gestoor is.
Die omtrek van die kraal word gewoonlik gebou uit skerp gepunte stokke of, indien daar geen bome in die omgewing is nie, uit klippe. Die kraal van die vee kan vergelyk word met die Umuzi se tempel: dit was, en in baie landelike gebiede is nog steeds, die plek waar die voorvadergeeste vermoedelik vertoef het en dus waar gebede gehou word.
Hier word opofferings gemaak en bedankings geoffer vir seëninge wat ontvang is. In die verlede was vroue oor die algemeen nie in die kraal toegelaat nie en geen vrou wat nie 'n kind van die huis was, is daar toegelaat nie, behalwe op spesiale geleenthede.
Maar tydens die 20ste eeu met die neiging onder die mense om as trekarbeiders te werk is baie vroue gedwing om verantwoordelikheid vir hul eie mans se vee te neem. Tradisioneel is individuele wonings tussen die heining van die kraal vir die vee en die buitenste heining (uthango) van die Umuzi gebou, waarom turksvye of doringbome met lang dorings geplant is om as 'n mate van beskerming teen indringers te dien.
Die hoof vrou bly in die hoof woning (indlunkulu), by die bo punt van die opstal (Umuzi), reg oorkant die hoofingang. Haar oudste seun was, en in die tradisionele samelewing is steeds, die hoof erfgenaam en opvolger van sy vader, en hy beklee ook 'n belangrike posisie in godsdienstige sake.
Op die regterkant van die hoofingang van die Umuzi, langs die hoof woning, was die regterhandse vrou (iqadi), wat 'n aanvullende rol tot die hoofvrou vervul. Een van haar funksies was om 'n erfgenaam te voorsien as die hoofvrou versuim om 'n seun te baar. Aan die linkerkant was die linkerhandse vrou (ikhohlo), wat die tweede posisie van waardigheid in die Umuzi beset.
In die geval van 'n hoofman, was die linkerhandse vrou dikwels die eerste vrou met wie hy getrou het. Sy, met al die ander ondergeskikte vrouens wat deel van haar huishouding gevorm (amabibi) het, was geheel en al onafhanklik van die hoof woning.
ʼn Tradisionele Zoeloe Umuzi is goed gereguleer deur streng etiket en sosiale dissipline. Hoewel 'n man 'n aantal vroue mag hê was daar selde botsings of jaloesie omdat die vroue almal onafhanklik was. Elkeen het haar eie huis en velde gehad en beeste is vir haar gebruik vir haar gegee.
Alle lede van die Umuzi het hul plek en funksie gehad, maar hul status het verander soos hulle ouer geword het. ʼn Bruid, eers onder die beheer van haar skoonma, het self 'n ma geword, en dan 'n ouma, en uiteindelik 'n gerespekteerde ouer persoon in die gemeenskap. ʼn Seun pas eers die bokke op en dan die beeste. Hierna het hy tot die status van 'n jong man met spesiale verantwoordelikhede en tot die vernietiging van die Zulu-koninkryk in 1879, met militêre pligte gevorder.
Na die vervulling van hierdie pligte vir 'n paar jaar, is hy toegelaat om 'n man en pa te word en met verloop van tyd is hy as 'n volwassene lid van die raad van ouderlinge aanvaar. Elke individu het deur 'n aantal stadiums gegaan, waar hy nie sou kon ingaan sonder voorafgaande voorbereidings en seremonies nie.
Translated by Wilma Koeppen