Afrika wildehond (Lycaon pictus)
Die Afrika wildehond kom in lae populasie getalle voor, en weens verskeie faktore is dié spesie een van Afrika se mees bedreigde diere. Een van die grootste faktore verlies van habitat is menslike vervolging, selfs in natuurbewaringsgebiede. Ander faktore sluit in siektes, soos hondsdolheid en hondesiekte, wat geskied wanneer wildehonde met huisdiere in aanraking gekom het. Die wildehond se kort lewensverwagting van slegs 6 jaar oud in die Kruger Wildtuin kan as gevolg wees van genetiese inteling.
Die wildehond is ’n karnivoor, 'n lid van die hondefamilie en het ’n skouerhoogte van 750 mm. Die volwasse mannetjie is effe groter as die wyfie en weeg 20 – 30 kg. Dit het ’n geel pels met wit, geelwit, swart en skakerings van bruin vlekke oor die lyf. Elke wildehond het ’n unieke pels patroon wat dit maklik maak om ’n individu te identifiseer.
Die wildehond vang meestal klein tot mediumgrootte soogdiere waarvan die rooibok hul gunsteling is. Dit is opgeteken dat hulle in Oos-Afrika groter wild soos die wildebees en sebra vang. Die wildehond jag saam in ’n trop en elkeen doen sy deel om die prooi te jaag tot dit uitgeput is en dan verskeur word. In sommige areas vang die wildehond ook vee, maar dit is redelik skaars. In en om die Masai Mara Nasionale Reservaat in Kenia ignoreer wildehonde die vee en in een geval in Zimbabwe het hulle verby ’n klomp kalwers gehardloop om ’n koedoe in die naburige veld te vang.
Die wildehond paar seisoenaal en in Suid-Afrika word die kleintjies na ’n dratyd van 70 dae in die middel van die winter gebore. Die dominante mannetjie en wyfie, wat die alfa paar genoem word, is die enigste in die groep wat paar en die ander wildehonde help net grootmaak. Werpsels van 12 of meer kleintjies is algemeen, maar die wyfie kan nie so lank melk voorsien nie. Vanaf drie weke oud word die voeding aangevul met vleis wat die ander wildehonde jag, wat hulle voor die kleintjies opbring sodat hulle kan eet. Die werpsel word in die lêplek beskerm.
’n Wildehond trop kan wissel van een paartjie en hul kleintjies tot soveel as 50. Die wildehond is baie sosiaal en bly die meeste van die tyd bymekaar. Dié spesies is een van die mees effektiefste roofdiere en sal van ’n groot eland tot ’n haas jag. Die wildehond se georganiseerde jag metode help dat prooi vinnig gevang word, somtyds binne sekondes. Die prooi word soms geëet as dit nog lewendig is en word binne minute verslind.
Die wildehond se nomadiese bewegings maak die skatting van hul verspreiding moeilik. Tot onlangs toe het die wildehond orals in sub-Sahara Afrika voorgekom, behalwe in reënwoud gebiede en woestyne. Nou is hulle egter in meeste gebiede uitgewis. Die wildehond het in die meeste lande in Wes- en Sentraal-Afrika uitgesterf en in die Ooste en Suide is hulle beperk tot ’n paar gebiede waar die menslike bevolkingsdigtheid laag bly. Hulle word in Suid-Afrika in die Nasionale Krugerwildtuin rondom Phalaborwa hek, Tshokwane, Skukuza en suid van Afsaal aangetref en soms op privaat wildsplase.