Watter Menslike Vaardighede is Nodig vir Boerdery?

©Andile Bhala
In boerdery is nie net harde vaardighede (soos hoe om te bestuur, in te ent, te besproei of plante te snoei) nodig nie, maar ook menslike vaardighede soos goeie, duidelike kommunikasie, ‘n positiewe ingesteldheid en eerlikheid.
Onthou dat alles wat jy doen ‘n indruk skep by iemand. Maak seker dat die indruk positief is.

Hier is ‘n paar menslike vaardighede wat nodig is om ‘n suksesvolle boer te word.

‘n Positiewe Ingesteldheid

Jou ingesteldheid sal jou verder bring in die lewe as byna enige ander eienskap wat jy mag hê. ‘n Goeie ingesteldheid beteken om ywerig en hardwerkend te wees. Wees bereid om ekstra takies te verrig sonder om nors te wees. ‘n Positiewe ingesteldheid maak dit aangenaam vir ander mense om saam met jou te werk.

Moenie arrogant wees nie. As jy ‘n senior posisie beklee is jy dalk nie ‘n leier weens jou posisie nie, maar omdat mense opsien na jou. Wees een van die span en lei vanuit die span. As hulle jou respekteer en weet dat jy vir hulle omgee, sal hulle jou hul leier maak en jou voorbeeld volg.

Toon Goeie Werksetiek

Wat beteken goeie werksetiek? Dit is jou houding teenoor jou werk. Dit beteken dat jy werk met aandag aan detail. Hou ‘n notaboek en pen in jou sak en maak aantekeninge en skryf vrae neer.

Soek geleenthede om te leer en doen meer as wat van jou verwag word. Uiteindelik doen jy dit nie regtig vir jou werkgewer nie, jy doen dit vir jouself.

Wees Altyd Eerlik

Eerlikheid en betroubaarheid is baie nou verwant, maar tog nie dieselfde ding nie. As jy altyd eerlik is sal jou werkgewer en die mense rondom jou, jou vertrou.
Almal maak foute, maar die wyse waarop jy ‘n fout hanteer mag dalk belangriker word as die fout self. As jy ‘n fout gemaak het – groot of klein – sê vir jou werkgewer. Neem verantwoordelikheid. Jou werkgewer sal jou goeie ingesteldheid en jou dapperheid om voor hom/haar te staan en ‘jammer’ te sê, waardeer.

Bestuur jou Tyd

In die boerderybedryf is dit belangrik om betyds te wees. Om die waarheid te sê, probeer om elke dag vroeg by die werk te wees. Maak seker dat alles in orde is voordat jy loop in die aand. Deur dit te doen, bewys jy dat jy ywerig is. Die paar minute mag dalk nie vir jou veel beteken nie, maar jy maak dalk ‘n reuse indruk op jou werkgewer. Terselfdertyd maak jy jouself gewoond daaraan om verantwoordelikheid te neem en berei jy dalk die pad voor vir ‘n bestuursposisie.

Wees altyd betyds vir afsprake. As jy byvoorbeeld beraam dat jy 30 minute sal nodig hê om daar te kom, vertrek 45 minute voor die afgesproke tyd.

Hou die kontaknommer van die persooon met wie jy die afspraak het by jou sodat jy onmiddellik kan laat weet as iets gebeur wat ‘n vertraging mag veroorsaak.

Voer die Opdrag Korrek Uit

Maak seker dat jy die korrekte besonderhede het – dit kan die verskil beteken tussen mislukking en sukses. As jy ‘n opdrag ontvang, maak seker jy voer dit korrek en deeglik uit.

Om iets korrek te doen is nie dieselfde as mikro-bestuur nie. As jy mense het wat vir jou werk, maak seker dat hulle weet wat om te te doen en dat jy hulle kan vertrou. Laat hulle toe om besluite te neem binne hulle areas van verantwoordeliheid.

Wees Behulpsaam

As jy sien dat iemand hulp nodig het om ‘n taak te verrig, bied hulp aan. Dit maak nie saak wat die aard van die taak is of wie die persoon is nie. Wys dat jy omgee – jy mag dalk later hulle hulp nodig kry.

Voormalige Future Farmer vakleerling, Lunga Ndwanwa, som die menslike vaardighede op wat nodig is om ‘n boer te wees: ‘Liefde is die belangrikste element. Jy moet lief wees vir wat jy doen. Dit beïnvloed jou ingesteldheid en die lewe word maklik. Wees altyd eerste by die werk en laaste om te loop. Werk asof dit jou eie besigheid is want as jy dit doen, sal jy eendag vir jouself werk.

Translated by Elna Van Rhyn