Water vir Bye

©Wildflower Meadows
Heuningbye het water om twee redes nodig. Eerstens is water nodig om gekristalliseerde heuning te verdun sodat dit by die kos vir die broeisel gevoeg kan word.
Tweedens benodig bye water om die korf af te koel. Hule doen dit deur ‘n dun lagie water oor te waai wanneer die aanvoelbare temperatuur hoër as 35°C is.
Die verdamping van die water verkoel die warm lug in die korf en help om die korf se humiditeit in stand te hou sodat die eiers sal uitbroei. In die winter verskaf kondensasie binne die korf genoeg vog.
Dit mag dikwels te veel water produseer sodat dit begin drup en bye kan doodmaak as daar nie goeie ventilasie binne die korf is nie. Bye mag ook water nodig hê wanneer korwe oor groot afstande vervoer word.

Hoe om Bye Water te Gee

Bye stoor nie water in hul korwe nie en moet water gaan haal. As daar geen natuurlike bron van water naby die korf is nie, moet jy jou bye water voer. Om skoon water naby te hê kan help om die energie wat die bye gebruik om te soek na water, te bespaar.
Bye suig natuurlik vog vanaf ‘n nat oppervlakte soos die grond (selfs nat wasgoed wat hang op ‘n draad) eerder as uit ‘n oop waterbron. ‘n Houer met ‘n oppervlakte van 75cm² (ongeveer die grootte van ‘n 500g margarienbak se deksel) per kolonie behoort voldoende te wees. Die landingsarea behoort groter te wees as die area van die water – byvoorbeeld, ‘n piering gevul met albasters.
Alternatiewelik kan een of ander drywende voorwerp of takkie verskaf word om te verhoed dat bye verdrink. Jy kan ook water deur ‘n pluimveevoerder gevul met klippe verskaf. Watervoerders by die ingang kan verskaf word, maar ‘n gemeenskaplike waterbron naby ‘n korf kan meer geskik wees. Maak seker dat die waterbron nie gedeel word met ander diere nie.

Die Beste Waterbronne vir Bye

©Bogdan Giuşcă
As bye hul drinkgoed kon bestel, sou dit sommige soute bevat. Hulle verkies byvoorbeeld urine of of water van ‘n poel bo die van ‘n meer. ‘n Onlangse studie het getoon dat bye water met 0.15-0.3% sout (NaCI) verkies. Dit is omtrent ‘n teelepel ongejodeerde sout op 3.5 liter water. Bye verkies ook water wat warmer is as 18°C.
Om te besluit oor die beste waterbron vir bye is dit raadsaam om soos ‘n by te dink. Bye se oë (al vyf van hulle) is ingestel om verandering in beweging en ligvlakke waar te neem, maar as hulle hoog vlieg mag hulle dalk nie moontlike bronne van water opmerk nie. Bynavorsers het vasgestel dat bye water opspoor deur reuk.
Water wat soos grond ruik, waterplante, verrottende plante en selfs chloor (swembaddens) is meer aantreklik vir bye as ‘skoon’ water. Hierdie waterbronne bevat ook vitamienes en mikronutriënte waarby heuningbye kan baat.

Translated by Elna Van Rhyn