Warthog
Vlakvark

© Shem Compion

Naam

Vlakvark (Phacochoerus africanus)

Orde

Artiodactyla (Ewehoewiges)

Familie

Suidae (Varke)

Gewig

Beer: 60 – 100 kg
Sog: 45 – 70 kg

Tande

Omtrent 25 cm

Hardloop spoed

40 km/h

Sosiale Gedrag

Die vlakvark is bedags bedrywig en soek heeltyd na kos. Hulle bly in familiegroepe. Die vlakvark kniel op die voorste knieë terwyl hy loop en eet. Hulle kruip in gate weg snags en gaan altyd stert eerste daarin. Sosiaal word daar drie hoofgroepe aangetref, naamlik ’n enkellopende beer, ’n groep alleenlopende bere en matriargale groepe. Matriargale groepe bestaan uit ’n sog en haar kleintjies.
Die vlakvark beer speel geen rol in die grootmaak van die varkies nie en assosieer selde met die sog buite die paringsproses. Promiskueus van aard sal beide geslagte met meer as een maat paar. Die vlakvark word gereeld by watergate gevind waar hulle dit geniet om in die modder te rol.

Voortplanting

Die vlakvark gee na ’n dratyd van drie maande, gedurende September tot Desember, geboorte aan 1 – 8 kleintjies wat elk 600 gram weeg en op 18 maande seksueel volwasse is.

Habitat

Vlakvarke bly in ’n verskeidenheid habitatte, maar het ’n sterk voorkeur vir oop bosveld savanne.

Verspreiding

Die vlakvark is wydverspreid in Suid-Afrika en nie ’n bedreigde spesie nie. Hulle kom natuurlik voor op plase en word in die areas waar hulle uitgeroei is hervestig. Hulle word ook in Zimbabwe, Botswana, Mosambiek, Kenia, Zambië en Tanzanië aangetref. Hulle kom in oop savanne rondom watergate en moerasagtige gebiede in die Nasionale Krugerwildtuin voor.

Natuurlike Vyand

Die kleintjies word deur arende en jakkalse gevang en die leeu, hiëna, jagluiperd, luiperd en krokodil is die grootste vyande van die volwassene vlakvark.

Spoor beskrywing

Die hoewe is smaller as dié van die bosvark en die kloue laat ’n duidelike spoor agter.

Veldnotas

Die vlakvark is een van die Afrika diere waarvoor mense regoor die wêreld lief geraak het deur Hollywood-flieks soos The Lion King - en ook een van die gewildste prooi van die Afrika-savanne met ’n klomp roofdiere wat die jong en volwasse vlakvarke vang.