Vrystaat Provinsiale Wapen

Die Vrystaat Provinsie se wapen is amptelik op 7 Mei 1999 bekend gestel. Dit het ’n veelkleurige basis van groen, bruin en roomkleurig wat op die Vrystaat se grond dui. Die Sesotho leuse, Katleho ka Kopano beteken “Voorspoed deur Eenheid”. 

Die skild is groen, geel en blou. Die groen verteenwoordig die grasvelde, die blou die lug en die geel die sandsteenformasies van die oostelike Vrystaat. In die middel van die geel vorm is die inheemse Oranjerivierlelie. Bo-op die skild is ’n kroon van diamante, mieliekoppe en koringare wat die ryk landbougrond en mynbou-erfenis van die Vrystaat verteenwoordig. Die skildhouers is twee jagluiperds.

Blom Embleem – Oranjerivierlelie (Crinum bulbispermum)

©Nigel Dennis

Die Oranjerivierlelie is ’n groot bolplant wat tot een meter hoog kan word. Dit het grysgroen blare, ’n lang stam en hangende lelieagtige blomme wat pienk is met ’n rooi streep in elke kroonblaar. Soos die naam aandui groei hierdie blomme langs riviere en in moerasagtige grasvelde. Die blomme het ’n soet maar sieklike geur wat insekte vir bestuiwing lok.

Oranjerivierlelies blom in die somermaande. Nadat die blomme afgeval het word die saad in ’n groot pienk kapsule gevorm. Die saad is bolvormig en ontkiem sodra dit grond raak. Die bolle word deur papieragtige skubbe bedek wat as beskerming in die droë wintermaande dien. Die Oranjerivierlelie word in tradisionele medisyne gebruik om rumatiek en spatare te verlig en swelling te verminder. Party mense glo ook dat dit ’n huis teen die bose kan beskerm.

Dier Embleem – Jagluiperd (Acinonyx jubatus)

Die jagluiperd is met sy windhondagtige lyf, lang bene, groot hart en longe en breë nasale openinge vir spoed gebou. Dit is om die waarheid te sê die vinnigste dier in die wêreld. Alhoewel die jagluiperd deel is van die katfamilie lyk dit meer hondagtig. Dit kan nie soos ander katsoorte die naels heeltemal terugtrek nie.

Hierdie eienskap help met die handhawing van sy spoed as hy jag. Die jagluiperd se lang stert word as ’n rigtingaanduier en stabiliseerder gebruik wanneer dit agter prooi aanhardloop. ’n Jagluiperd jaagtog is nogal iets om te aanskou, van sluip tot volle vaart in minder as 60 m met ’n spoed van tot 114 km per uur.

Die prooi, van ’n haas tot ’n kleinerige bokkie, sal wanhopig probeer om die jagluiperd met ’n heen en weer gehardloop te ontduik. Dit is gewoonlik ’n resies van spoed, bedrewenheid en stamina wat die verloorder óf gevang óf honger uit die stryd laat tree. Jagluiperds is waarskynlik meer suksesvolle jagters as enige ander groot kat.

Met ’n kleiner gewig as die ander groot katte moet dit baie keer ’n maaltyd aan leeus of luiperds afstaan aangesien dit eers na die jaagtog moet asemskep. Jagluiperds het gebiede wat hulle met urine merk, maar nie aktief verdedig deur te veg nie. Koalisies van jagluiperdmannetjies is algemeen.

Translated by Ananda Schoeman