Vredefort en die Goudvelde

© David Fleminger

‘n Bedekte Seën

Suid-Afrika is ‘n baie bevoorregte plek. Ons is geseën met ‘n stabiele tuiste op die wêreld se oudste kontinent, ver van enige aardbewings en vulkane. Ons rotse het verkrummel tot vrugbare grond wat ‘n groot verskeidenheid plante onderhou. Op die koop toe is ‘n aansienlike persentasie van die planeet se waardevolle minerale begrawe onder ons voete. Die Vredefort impak was ‘n seldsame swart merk op ons rekord. Of was dit?
Onlangse navorsing het getoon dat die Vredefort impak ‘n bedekte seën was. Ja, dit het enorme skade aangerig. En, ja, dit het maande se donkerte en koue tot gevolg gehad terwyl die stof die son verduister het. Maar dit het hoogs waarskynlik ons goudvelde van vernietiging gered.

Die Waardevolle Goud

Toe die bolide die aarde getref het, is die grond oopgebreek sodat die rotsstrata teen ‘n diagonaal afwaartse hoek in die aarde geplaas is om dan te sprei in die rigting van die kern van die krater. ‘n Kombers van uitgeskiete rotse en stof het daarna die hele gebied bedek en die rotse onder hulle begrawe. Die goudryke lae van die Witwatersrand Supergroep is dus beskerm en veilig ondergronds gedruk.
As dit nie was vir die Vredefortimpak nie, sou die waardevolle goud naby die oppervlakte gebly het en verweer het tot daar niks oor was nie. Daarenteen het die goud gekonsentreer gebly in betalende riwwe wat met skouspelagtige sukses gemyn is. Sedert goud ontdek is in 1886 het ons al 50 000 ton goud uitgehaal, 30% van die totale hoeveelheid goud wat al op aarde gemyn is en Suid-Afrika het steeds 50% van die wêreld se bekende goudreserwes. Ons is tans die wêreld se grootste goudprodusent met ‘n jaarlikse produksie van meer as 400 ton, wat 17% uitmaak van die globale goudvoorraad.

‘n Goue Randjie

Die verbintenis tussen die Vredefortimpak en die goudvelde verklaar ‘n aantal dinge. Eerstens help dit ons om te verstaan waarom die goudmyne van die Witwatersrand strek in ‘n netjiese boog vanaf Johannesburg, deur die Wesrand en Klerksdorp tot by Welkom. Hierdie boog lê teen ‘n redelike konstante afstand vanaf die kern van die koepel en kan gesien word as ‘n buitenste rand van die oorspronklike krater. Tweedens het die impak die gouddraende strata in ‘n suidelike rigting in die grond laat insak. Dit was nie aanvanklik ‘n probleem nie, omdat die eerste myne geleë was op plekke waar die gouddraende riwwe die oppervlak gebreek het.
Soos die myners egter die riwwe deur die rotsstrata gevolg het, het hulle gevind dat hulle al dieper en dieper in die grond afgedaal het. Die resultaat is dat Suid-Afrika die diepste myne in die wêreld het. Mponeng Myn naby Potchefstroom, voorheen bekend as Western Deep Levels, hou tans die rekord in hierdie verband, met ‘n werkende skag wat ‘n diepte van 4 kilometer nader. ‘n Mens kan jou nie eens indink hoe die twintigst eeu sou gewees het sonder die goud van die Witwatersrand, of die Vredefortimpak wat dit gered het van verdwyning nie. Dit wys jou net, elke asteroïede het ‘n goue randjie.Translated by Elna Van Rhyn