Die verwagte leeftyd van ’n wingerd is meer as twintig jaar dus is die belangrik om die regte kenners te vra vir raad. Daar sal gekyk word na die volgende aspekte voor nuwe wingerd gevestig kan word: Die huidige kultivarsamestelling op die plaas: watter kultivars en hoeveel word tans verbou?
Die beoogde tonnemaat wat die nuwe wingerd behoort te produseer. Gaan die nuwe kultivar se rypwordtyd bots met dié van ander bestaande kultivars en gewasse?
Watter ander landbougewasse word tans verbou? Die beskikbaarheid van water. Mate van meganisasie wat toegepas word. Grondkundige inligting van die spesifieke blok asook die geskiktheid van die terrein vir wingerdverbouing in terme van ligging en helling.
Hantering van verskillende grondtipes, dreinering (indien nodig) asook die chemiese en mikrobiologiese regstelling van die grond word in ag geneem. Kultivar-aanvraag en die tipe wyn wat geproduseer gaan word en vir watter mark dit geproduseer gaan word. Kultivar- en kloonkeuses moet oorweeg word asook geskikte onderstokke wat by die grondtipe aangepas is.
Verder moet gekyk word na aspekte rondom die vestiging van die stokke: ry-wydte, stokspasiëring, ryrigting en rylengte asook opleistelsel.
Daar moet gekyk word na die geskiktheid van die grond – is dit hoegenaamd geskik vir wyndruiwe of moet ’n ander gewas oorweeg word? Plekke wat dalk blootgestel kan wees aan rypskade behoort vermy te word, byvoorbeeld vleigrond en nat of versuipte gronde moet of vermy word of eers gedreineer word.
Sekere areas of liggings byvoorbeeld hellings, kan te veel wind kry wat die wingerd se groei sal bemoeilik. Hellings kan koeler wees in die somer as laerliggende gronde teenaan ’n rivier. Noordelike hellings in Suid-Afrika is warmer en word benut vir die kultivars soos Cabernet, Pinotage, Shiraz asook sekere wit kultivars soos Chenin Blanc en Chardonnay.
Suidelike hellings is weer koeler en kultivars wat goed hierby aangepas is, is wit kultivars soos Sauvignon Blanc en Riesling en rooi kultivars soos Merlot en Pinot Noir. Vrugbare riviergrond kan weer veroorsaak dat wingerde baie geil groei en die druiwe makliker kan vrot. Rooi kultivars sal ook onder sulke toestande swakker kleur.
Ry-wydte word hoofsaaklik deur optimale grondgebruik bepaal, maar ook deur trekkers en implemente soos die spuittoerusting wat gebruik gaan word. Ry-wydte van wingerde by wyndruiwe wissel normaalweg tussen 2.1 m tot 3.0 m rye maar word so smal as moontlik gehou vir die optimale benutting van die grond.
Dit gee dus aanleiding tot hoër produksie per hektaar en gevolglik ook groter inkomste per hektaar. Die ry-wydte hang egter ook af van watter prieelstelsel (opleistelsel) en snoeistelsel wat gebruik gaan word want dit bepaal hoe wyd die lower gaan wees. By die gebruik van oesmasjiene moet daar veral gelet word op die padbreedte asook die draaispasie.
Omdat oesmasjiene baie groot is, draai dit baie wyd. Op die kop-ente van die rye behoort die draaispasie nie nouer as 6 - 7 meter te wees nie.
Ryrigting word meestal deur die area of helling sowel as heersende winde, son en kultivar bepaal. Die effek van sterk winde en windrigting speel ook ’n belangrike rol. Wind wat in die wingerdry af waai kan die blare vinniger droog waai en swamsiektes beperk. Dit het ook ’n groter afkoelingseffek op die druiwe en daar is minder windskade.
Sterk winde wat van die kant waai, kan vroeg in die seisoen jong lote beskadig deur lote af te waai voor dit lank genoeg is om aan die drade vas te rank. Ryrigting (son-blootstelling) en helling (water-erosie) is ook bepalende faktore by die vestiging van nuwe wingerd.
Raadpleeg ‘n wingerdboukundige in hierdie verband want daar is verskille tussen koue en warmer areas ten opsigte van watter ryrigting geplant gaan word. Die nuutste gebruik is om langer rye te vestig omdat dit goedkoper is en minder draaityd beteken. Die grond word dus so beter benut. Die maksimum rylengte is ongeveer 250 m.
Translated by Marinda Louw