Toerusting - Konynkaste

© Karoline Steenekamp

Neskaste

‘n Neskas is ‘n onontbeerlike stuk toerusting en kan op vele wyses gemaak word. Die meeste boere verkies houtkaste, wat óf binne in die hok, of aan die buitekant van die hok vasgemaak is met ‘n gat waardeur die wyfie in en uit kan beweeg. (Sien foto’s). Alternatiewelik kan ‘n 25-liter plastiese waterkan uitgesny word om ‘n snoesige, maklik skoonmaakbare neskas te maak. Neskaste van plastiek wat aan die nes gehaak word kan gekoop word, maar is duur, hoewel baie gerieflik om te gebruik. (Sien foto).

‘n Baie koste-effektiewe neskas kan gemaak word deur ‘n gat in die voorkant van ‘n kartondoos te knip. Sorg moet gedra word dat die kartondoos droog gehou word en net eenkeer gebruik word. Sodra die werpsel gespeen is moet die kartondoos (wat daarvan oor is nadat die moeder daaraan gekou het) opgeskeur en op die komposhoop gegooi word.

Vervoerkaste

Konyne moet verskuif word en dis ‘n goeie idee om ‘n vervoerkas te gebruik vir hierdie doel. Dit kan ‘n klein draadhokkie wees met handvatsels, of van hout gemaak wees, ook met handvatsels. As ‘n houer benodig word om baie konyne te vervoer, is dit beter om ‘n krat met vier of vyf kompartemente te gebruik. Wanneer konyne in ‘n voertuig vervoer word behoort hulle in stewige, goed-geventileerde kaste of kratte te wees wat hulle sal beskerm gedurende die reis.
Sorg moet gedra word dat daar nie te veel konyne in ‘n houer vervoer word nie. Indien die reis lank gaan wees, moet daar appels en wortels in die houer wees om voedsel en vloeistof te verskaf. Hoe langer die reis, hoe minder diere per houer. Die meeste reise duur ogeveer 1 – 6 uur.

Noodhulptoerusting

Noodhulptoerusting is noodsaaklik. Dit moet basiese medikasie insluit en te alle tye toeganklik wees. (Inhoud van ‘n noodhulpkas sal bespreek word onder ‘Gesondheid’).
Hokkaarte, rekordhoudingsboeke en die merk van konyne sal bespreek word onder ‘Konynbestuur’. ‘n Skaal en versorgingstoerusting sal ook bespreek word onder ‘Bestuur’.

Translated by Elna Van Rhyn