Die Taung Kind – Ons Menslike Oorsprong

Die Gefossiliseerde Brein

©David Fleminger

Die eerste belangrike hominied fossiel wat in Afrika gevind is, is in 1924 geïdentifiseer deur Professor Raymond Dart. Dart was ‘n Australiër wat in Suid-Afrika gewerk het as professor in anatomie by die Universiteit van die Witwatersrand. Tydens ‘n velduitstappie in die Buxton Steengroef naby Taung in die hedendaagse Noord-Wes Provinsie, het van Dart se studente interessante fossiel-monsters gevind wat hulle na hul professor gestuur het. Soos Dart self geskryf het: “ Heel bo-op die hoop rotse was onweerlegbaar ‘n endokraniale vorm van die binnekant van ‘n skedel. Al was dit ook net die gefossileerde breinvorm van enige aapspesies, sou dit ‘n reuse-ontdekking gewees het, want so-iets is nog nooit vantevore aangeteken nie. Maar ek het met die eerste oogopslag geweet dat dit wat ek in my hande vasgehou het, nie ‘n gewone antropoïdale brein was nie. Hier, in kalk-gekonsolideerde sand was die replika van ‘n brein drie keer so groot soos dié van ‘n bobbejaan en aansienlik groter as dié van ‘n volwasse sjimpansee.”

Skielik opgewonde, het Dart verder deur die boks gekrap en nog stukkies van die vreemde wese se gesig gevind. Hy het gou besef dat hierdie dier tekens toon dat hy regop geloop het, en die tande het eienaardig menslik gelyk… ‘n Paar maande later het hy ‘n baie kontroversiële artikel in ‘n wetenskaplike joernaal, Nature, publiseer. Sy gevolgtrekking was dat die skedel behoort het aan ‘n jong lid van ‘n spesies wat iewers tussen ape en moderne mense val. Hy het die spesies Australopithecus africanus genoem.

Ons Menslike Oorsprong

Dit is alles as verregaande beskou deur die kontemporêre wetenskaplike gemeenskap omdat dit toe nog aanvaar is dat mense in Asië ontstaan het en Dart se bewyse was in konflik met die Britse fossiel, ‘Piltdown Man’ (wat later ontmasker is as ‘n kullery).

Boonop was die blote gedagte dat enigiets uit die donker, agterlike Afrika-kontinent kon kom, amper onmoontlik om selfs net te oorweeg en Dart is erg die kop gewas deur internasionale kollegas. Tog het ‘n paar ondersteuners na vore gekom, insluitend Dr Robert Broom. Mettertyd is die akkuraatheid van Dart se teorie bevestig en vandag word die Taung kind gesien as ‘n belangrike skakel in ons verstaan van menslike oorsprong. Raymond Dart het voortgegaan met ‘n lang loopbaan by Wits en is in 1988 oorlede in die rype ouderdom van 95.

Die Australopithecines

©David Fleminger

Moenie dat die naam jou afskrik nie. Australo beteken suidelike en pithecine beteken aap. Dus beteken Australopithecine suidelike aap. Dis die naam wat gegee word aan ‘n aantal vroeë hominiede spesies wat in sowel oostelike as suidelike Afrika gevind word, en dit word algemeen aanvaar dat die Australopithecines ‘n belangrike skakel in ons evolusionêre leer is.

Oor die algemeen is daar twee soorte Australopithecine: die dikkes en die dunnes. Daar word aangeneem dat die dunnes, ook genoem ‘gracile’ Australopethicines eerste ontwikkel het en voorbeelde dateer tussen 4 miljoen en 2 miljoen jaar gelede. Hule word gekarakteriseer deur ‘n relatiewe fyn raamwerk met ‘n relatiewe verfynde skedel (as hulle vergelyk word met hul aap tydgenote) asook ‘n redelike groot breinkapasiteit vir hulle tyd. Die bene van hul pelvis en bene dui ook daarop dat hulle ten minste gedeeltelik bipedaal was.

Daar is twee hoofspesies ‘gracile’ Australopithecine: Australopithecus afarensis (in oostelike Afrika gevind) en Australopitecus africanus (in suidelike Afrika gevind).

Translated by Elna Van Rhyn