Skoonmaak Toerusting vir Konynboere

©Judy Stuart
Die gesondheid en welstand van konyne hang af van goeie voeding en dat hulle silwerskoon gehou word te alle tye. Dit is dus belangrik om die regte toerusting te hê waarmee die konynarea binne en buite, asook die hokke en die toerusting wat binne-in die hokke gebruik word, skoongemaak word.
‘n Harde besem en graaf is noodsaaklik om die vloerarea netjies en skoon te hou.
‘n Vloer wat skoongevee is ontmoedig die twee vernaamste roofdiere om die area te verken; beide rotte en slange sal konyne aanval en/of doodmaak maar beide vermy areas wat skoongevee is. Indien die konynhokke op ‘n sementvloer staan, is dit ‘n goeie idee om ‘n laag saagsels onder die hokke te gooi. Dit absorbeer urine en water wat gemors is en hou vlieë weg uit die area. As konyne in houthokke aangehou word, is dit noodsaaklik dat die nat beddegoed verwyder en vuil areas skoongeskraap word met ‘n skraper.
Konyne kan geleer word om “toilette” te gebruik. Vul ‘n 45 x 30 cm houer (soos dié vir katsand) met saagsels en plaas dit waar die konyn self verkies om sy toilet te hê. Alle konyne gebruik slegs een plek as toilet. Dit vergemaklik die skoonmaakproses omdat die saagselbak dan net verwyder, skoongemaak en gewas en weer met vars saagsels gevul hoef te word.
Draadhokke moet af en toe met ‘n draadborsel skoongemaak word om aangepakte hooi en mis, of mis uit neskaste te verwyder.
Emmers en ‘n kruiwa maak dit maklik om water aan te ry na areas wat gewas moet word, of om vullis en mis wat opgevee is te vervoer na die tuinkomposhoop. Selfs hare van konyne wat verhaar moet verwyder word en na die komposhoop gaan.

Translated by Elna Van Rhyn