Ek het vir ‘n dame in Plumstead gewerk en later vir haar dogter, Mev Truter, in Kloofstraat in Kaapstad. Mev Truter het vir my gesê dat ek eers deur die loergaatjie in die deur moes kyk wanneer iemand aan die deur geklop het, en as dit ‘n polisieman was, moes ek nie oopmaak nie.
Dalk het die bure vir die polisie gesê dat daar ‘n vrou sonder ‘n pas gewerk het, want hulle het seker honderd keer kom klop, maar ek het nooit oopgemaak nie. Hulle kon my nie kry nie, want ek het daardie loergaatjie gehad. As ek deur die venster gekyk het en ‘n groot motor buite gesien het, het ek altyd gewonder wie dit was en of hulle my dophou.
As ek die huis kon verlaat het, sou ek meer uitgegaan en meer vriende gemaak het, maar ek was vasgekluister binne en was eensaam. Ek was nie gelukkig nie. Terselfdertyd was dit goed, want ek het gewerk en het iets vir my kinders verdien.
Daardie werk was ‘n inslaap-werk. Inslaap-werk was goed. Uitslaap-werk was sleg, want dit was te gevaarlik. Donderdae was ons afdae en dit was ook gevaarlik. Jy het nooit geweet of jy die volgende dag weer by die werk sou wees nie.
Eendag het die polisie ons amper gevang, ses of sewe van ons. Toe ons by die Gugulethu treinstasie uitkom, was die vangwa reg voor ons. Die polisie het deur die venster beveel: “Stop daar en haal uit julle passe.” Ek was voor in die groep. ‘n Polisieman het van die anderkant van die vangwa ombeweeg na ons toe.
Terwyl hy dit gedoen het, het ek gedink: “Nee, waarom moet ek terug in daardie gat ingaan? Ek sal nie dat hulle my kry nie.” Toe stap ek na die vangwa toe asof ek by die oop deur gaan inklim terwyl mense wat daar rondgestaan het begin lag het omdat hulle gedink het dat ek uit vrye wil gaan inklim en tronk toe gaan. Maar toe ek naby die vangwa was, het ek soos blits wegggehardloop.
Die ander het my gevolg en ook weggehardloop. Ek weet nie waarheen hulle is nie, maar ek het om die hoek gehardloop na die groot konkryt manshostel en hulle het my ingelaat. Hulle het lae konkrytbeddens gehad, met spasie onder waar die mans hul klere gehou het. Hulle het my vinnig weggesteek in een van daardie spasies terwyl iemand op die bed gesit het.
Die polisie het ingekom. Hulle het altyd kwaai geklink en nie mooi gepraat nie. Hulle het geskreeu: “Wys ons waar sy is.” Die mans het gesê: “Hier is niemand nie. Ons het niemand gesien nie.” Toe begin die polisie rondsoek. Ek kon die geluide hoor wat hul stewels op die grond gemaak het, so ek het geweet daar is talle van hulle. Maar hulle het my nie gekry nie, want hulle het nie daaraan gedink om onder die planke te kyk nie.
Translated by Elna Van Rhyn