Voordat dit ‘n internasionale paleontologiese ikoon geword het, het die Sterkfontein grotte bedek en onbekend gelê onder die grond van die plaas Swartkrans in die Bloukransvallei in die Wieg van die Mensdom. Daar was maar min aan die gang in die area afgesien van die boere en hul boerderye. Maar dinge het op die punt gestaan om vir altyd te verander want “there was gold in them thar hills”.
Die eerste betroubare gerugte oor goud in die Witwatersrandkom was in 1852 toe ‘n Britse mineraloog genaamd John Henry Davis ‘n fonds op die plaas Paardekraal (wat later Krugersdorp en toe weer Mogale City geword het) aangemeld het.
Die volgende jaar het Pieter Jacob Marais (eerste amptelike goudprospekteerder van die Zuid-Afrikaanse Republiek) ook goud gevind in die Jukskei- en Krokodilriviere, noord van die hedendaagse Johannesburg.
Maar nie een het die skatkis wat diep onder die grond verberg was, ontdek nie, hoofsaaklik omdat die kennis wat toe beskikbaar was, bepaal het dat goud in riviere gevind word. In 1874 het Henry Lewis ook goud langs die Blaubankrivier naby wat later die dorp Magaliesberg sou word, gevind en die Nil Desperandum Co-operative Quartz Company is gestig – die eerste goudmynmaatskappy wat werklik bedrywig geraak het in die Witwatersrand
Toe, in 1881, is ‘n klein riffie by Kromdraai in die Wieg ontdek en binne ‘n paar jaar is die Kromdraai Gold Mining Company gestig en deel van die plaas is verklaar as ‘n “public digging”.
Teen 1886 was die Main Reef ook reeds ontdek en die hoeveelheid goud afkomstig uit Blaaubank en Kromdraai het nie betalend gelyk nie. Teen 1912 het goudmynery in die Wieg min of meer tot ‘n stilstand gekom. Vandag is beide die Blaubank goudmyn en die Kromdraai goudmyn oop vir die publiek en kan besoek word.
Maar mynbou het aangehou om ‘n groot impak op die Wieg te hê, selfs al het sy rotse nie goud bevat nie. Hulle het tog iets bevat wat benodig is deur die groot mynbou-operasies van die Witwatersrand: kalk.
As ‘n sterk alkali, is kalk gebruik in die vervaardiging van sement en ook in die MacArthur-Forrest goud-ekstraksieproses want dit kon die sterk sianiedsuur wat gebruik is om die kosbare goudpartikels uit die gouddraende rots te trek, neutraliseer.
Gelukkig het baie van die grotte in die Wiegarea groot hoeveelhede kalksteen bevat wat in oonde verhit kon word om rou kalk vir die myne te produseer. Dit het aan die area ‘n tweede kans op voorspoed gegee en eendag in 1896, het ‘n kalk-werker, Guglielmo Martinaglia, die ingang na ‘n grot oopgeblaas wat Kromdraai genoem is.
Oor die jare wat gevolg het is die Kromdraaigrotte (later Sterkfontein genoem) en baie ander grotte in die omgewing ekstensief gemyn vir kalksteen. Reuse stukke rots is dus uit die grot uitgeblaas en in kalkoonde verbrand sodat baie waardevolle fossiele in die proses verbrand is.
Die eerste persoon om hierteen te protesteer was ‘n pionier geoloog, David Draper, wat gesê het dat die Kromdraaigrotte van groot geologiese belang was en beskerm behoort te word teen myners. G
elukkig het iemand na hom geluister en die gebruik van plofstof is beperk in die hoofsaal van Sterkfontein om die pragtige grotte en die ongeskonde ondergrondse meer te beskerm. Elders het mynbedrywighede nog vir etlike dekades voortgeduur. Vandag, wanneer jy die grotte besoek, sal jy verskeie stalaktiete (druipsteen) opmerk wat summier afgebreek is deur die myners van toentertyd.
Selfs terwyl mynbedrywighede nog aan die gang was, het mense die fossiele wat uit die grotte gekom het, opgemerk en die eienaar van die terrein het ‘n “tearoom” geopen waar hy plaatkoekies, guano en fossiele aan nuuskierige besoekers verkoop het.
In 1935 het Trevor Jones ‘n aantal interessante aapfossiele in die grot ontdek en dit het die aandag getrek van GWH Scheepers en H le Riche wat weer die bekende fossiel-jagter, Robert Broom, in kennis gestel het.
Toe Broom die grotte in 1936 besoek het, het hy gou die paleontologiese waarde van die terrein gesien en die steengroefmeester gevra om op die uitkyk te bly vir interessante fossiele. Dit het gelei tot die ontdekking van etlike belangrike hominiede fossiele en, in 1947, die mylpaal-ontdekking van Mev Ples.
Maar, ten spyte van ‘n aantal kosbare fosiele wat in die area gevind is, was Sterkfontein steeds slegs ‘n informele argeologiese opgrawingsterrein en die dood van Robert Broom in 1951 het gelei tot ‘n effense krisis vir die grotte. Daar was oor die algemeen ‘n gebrek aan befondsing en die Nasionalistiese regering het ‘n implisiete afkeer van evolusie demonstreer.
As gevolg daarvan was die grotte baie na aan ‘n hopelose situasie. Dit was slegs deur die toedoen van Philip Tobias van die Universiteit van die Witwatersrand dat die grotte oopgehou is en in 1966 het die Stegmannfamilie die terrein aan die Universiteit van die Witwatersrand geskenk sodat hulle hul aktiwiteite kon formaliseer.
Wits Universiteit, wat vandag nog die terrein besit, het gou ‘n klein museum daar oopgemaak en vir Alun Hughes aangestel as die eerste toesighouer (om later opgevolg te word deur Ron Clarke in 1992).
En so het die wêreld se langsdurende argeologiese opgrawing op ‘n hominiede terrein begin. Tot dusver het Sterkfontein meer as 700 hominiede fossiele opgelewer in die hande van paleo-antropoloë, wat dit verreweg die wêreld se rykste hominiede terrein maak.
Tans word die fossiele wat deur Broom en Robinson gevind is bewaar in die Transvaal Museum, terwyl die fossiele van Tobias, Hughes en Clarke by Wits gehou word. ‘n Mens hoop dat hulle eendag hul pad sal terugvind na Sterkfontein waar hulle veilig ten toon gestel kan word aan die publiek.
Translated by Elna Van Rhyn