Leopard
Luiperd

© Shem Compion

Naam

Luiperd (Panthera pardus)

Voorkoms

Die luiperd het swart kolle gerangskik in rosette gekontrasteer met ’n geel-goue agtergrond. Daar is enkel swart kolle op die ledemate en kop. Die stert het ’n wit punt onder. Hierdie kat is groter en stewiger gebou as die jagluiperd. Die kop en lyf is 1,6 - 2,1 m lank en die stert is 0,68 - 1,1 m lank. Wyfies is kleiner en weeg 17 – 60 kg en die mannetjies weeg 20 – 90 kg. Die skouerhoogte is 700 – 800 mm. Hierdie nagtelike roofdier is die tweede grootste van die Afrika katte.

Dieet

Die luiperd kan by omtrent alles aanpas en dit blyk uit sy wye verskeidenheid van dieet. Al eet die luiperd gewoonlik klein tot medium boksoorte eet hulle ook dassies, bobbejane, vis en reptiele. Daar is selfs bewys dat die luiperd in skaars kos tye van insekte en knaagdiere leef. Die luiperd is so aanpasbaar dat hulle selfs aan die buitewyke van dorpe kan oorleef.

Voortplanting

Die luiperd is ’n nie seisoenale teler. Luiperdwelpies word gebore na ’n dratyd van drie en ’n half maande en wyfies gee gewoonlik geboorte aan twee of drie welpies in ’n versteekte area soos natuurlike gate of digte bos. Die welpies word goed weggesteek van ander roofdiere soos die leeu, jagluiperd en hiëna wat graag ’n maaltyd van hulle wil maak. Die welpies bly by die wyfie vir ten minste ’n jaar waartydens hulle leer om in die natuur te oorleef.

Sosiale gedrag

Die luiperd kruip weg in die dag en jag in die nag, maar in sommige areas is jag gedurende die dag algemeen. Hulle lê en wag vir die niksvermoedende prooi, bespring dit en versmoor dit dan met ’n kragtige byt teen die keel. Kleiner prooi spesies word doodgemaak deur ’n byt aan die agterkant van die nek wat gewoonlik die rugmurg afsny. Hulle pluk die hare van die prooi af en begin dan die sagter dele eet. Die oorblyfsels en ingewande sal met gras en sand toegemaak word. Die luiperd kan goed boomklim en as daar mededinging van ander roofdiere is, word die karkas buite bereik in die mik van ’n groot boom versteek. Mannetjies verdedig groot gebiede wat die gebiede van twee of selfs drie wyfies oorvleuel. Wyfies verdedig hul grondgebied teen ander wyfies.

Habitat

Die luiperd kan in verskillende klimaatstreke bly, van kusgebiede tot op 2000 m bo seespieël in woude, woestyne, semi-woestyne, bosveld, berge en rotsagtige gebiede. Hulle is nie afhanklik van oppervlakwater nie. Hierdie meester van geheimsinnigheid het een of ander vorm van dekking nodig, soos digte bosse of rotse. Alhoewel die getalle oor die jare gedaal het, word die luiperd nog steeds in die berge en digte bosse dwarsdeur Suid-Afrika aangetref, behalwe vir die sentrale binneland.

Verspreiding

Die luiperd kan in hulle natuurlike habitat in ’n aantal wildreservate in Suid-Afrika besigtig word. Dit sluit die Kruger Nasionale Park in Mpumalanga en die Pilanesberg Nasionale Park in die Noordwes-provinsie in. Geïsoleerde luiperd populasies kan selfs gevind word in die Drakensberg-bergreeks en op baie private wildreservate en plase regdeur Suid-Afrika.


Beste plek on luiperd to sien